Ouer krieketmanne hou gholfdag

Krieket
Tielman Van Lill
Die manspan van die Veteranekrieketvereniging van Namibië het verlede jaar November in Suid-Afrika gaan slyp om van 6 tot 20 Maart aan die Wêreldbeker vir spelers ouers as 50-jaar in Kaapstad deel te neem.

Die twaalf spanne van die vorige wêreldtoernooi (2020) is intussen tot 14 vermeerder met die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en die Verenigde State van Amerika (VSA) wat bykom.

Die toernooi sal in twee groepe beslis word met elke span wat agt wedstryde sal speel.

In November was die Namibiërs in Pretoria by die Irene-buiteklub en Cornwall Hill College in twee wedstryde teen Suid-Afrika en Zimbabwe in aksie. Ongelukkig het die Emirate sy span uit die kompetisie onttrek.

Rudie van Vuuren en Daneel van der Walt kon weens beserings nie aan dié toernooi in Gauteng deelneem nie. Van der Walt het intussen herstel, maar Van Vuuren sê hy is ’n wedloop teen tyd gewikkel om betyds vir Kaapstad reg te wees. Sy kruisligamente is twee maande gelede chirurgies herstel en hy is steeds besig met rehabilitasie.

Intussen bied die manne aanstaande maand ’n gholfdag by die Windhoek Buiteklub se baan aan om geld vir hul reis na die Wes-Kaap in te samel. Sonder reis en verblyf is die inskrywingsgeld vir die toernooi N$167 500 per span.

Die gholfdag sal op Vrydag 3 Februarie teen elfuur die oggend afslaan. Inskrywings kos N$4 500 per span van vier spelers wat baangelde, aandete en pryse insluit.

’n Putjie kan vir N$2 000 geborg word en ’n veiling ten bate van die span sal gehou word.

Om in te skryf, kan Dawie by [email protected] gekontak word, of stuur ’n Whatsapp na 081 124 5244 (Dawie), 081 332 3480 (Louis) of 081 149 2525 (Petrie).

50’S-WÊRELDBEKER

In groep A is Suid-Afrika saam met die 2018-finaliste, Pakistan, sowel as Engeland, Wallis, Indië, Namibië en die VSA, terwyl groep B die verdedigende wêreldkampioen Australië, Nieu-Seeland, Wes-Indiese Eilande, Zimbabwe, Kanada, Sri Lanka en die Emirate insluit.

Die Namibiese span is Andy Fallis (kaptein), Melt van Schoor (onderkaptein, paaltjiewagter), Trevor Britten, Rudi Birkenstock, Louis Nortjé, Piers L’Estrange, Deon Gouws, Ashley Griffiths, Alex Horn, Dawie Hartzenberg, Petrie Theron, Ken Joseph, Willie van Zyl, Francois Erasmus (speler en spanbestuurder), Rudie van Vuuren (moontlik), Daneel van der Walt en Norbert Manyande (afrigter).

Nuusverwikkelinge en uitslae kan by Facebook.com/o50scricketworldcup (World Over-40s and Over-50s Cricket) of Twittter (Over-40s & Over-50s Cricket) gevolg word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer