Rassie Erasmus se soentjie vir die Wêreldbeker-trofee. Foto Getty Images
Rassie Erasmus se soentjie vir die Wêreldbeker-trofee. Foto Getty Images

Onthul: Rassie se plan vir 2027

Rugby
Hendrik Cronjé
Rassie Erasmus beraam reeds planne om die Webb Ellis-trofee vir ’n ongekende derde opeenvolgende keer omhoog te hou.

In sy eerste media-onderhoud sedert die Springbokke in Parys hul vierde Wêreldbeker-titel verower het, het Erasmus gister bevestig dat hy as hoofafrigter terugkeer (die posisie wat hy tydens die WB-sege in 2019 beklee het. Jacques Nienaber het in April vanjaar aangekondig dat hy ná Frankryk 2023 ’n nuwe pos by Leinster aanvaar het.

Erasmus het ook teenoor Rapport verklap watter 2023-spelers in die binnebaan is om terug te keer vir die 2027-toernooi in Australië ... en watter jong sterre volgens sy voorlopige beplanning hard aan die deur gaan klop.

Die vertrek van die Bok-breier Jacques Nienaber, met wie hy reeds die afgelope twee dekades nou saamwerk, gaan ’n “moerse” leemte los, erken hy. Maar in dieselfde asem voeg hy by dat niemand onvervangbaar is nie; dít het die verlies van die yster-haker Malcolm Marx en ander sterre tydens vanjaar se Wêreldbeker-toernooi bewys.

“Selfs toe Bongi Mbonambi vroeg af is (in die eindstryd), het ons eindelik die Wêreldbeker met Deon Fourie op haker gewen. Ons het Lood de Jager verloor. Ons het Lukhanyo Am verloor.”

Met Nienaber wat hom later vanjaar by die Ierse klubreus Leinster aansluit, sal Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, in die afsienbare toekoms die meeste van sy luitenant se Bok-afrigterspligte oorneem.

Erasmus se ses jaar lange termyn by SA Rugby (eers as Bok-breier en toe direkteur van rugby) is gekenmerk deur haarfyn beplanning. Met die babelas van die Bok-triomf in Parys wat nog nie eens gelig het nie, is hy nietemin reeds besig om die Bokke se diepte in sekere sleutelposisies onder die loep te neem.

Een van area waaroor hy bekommerd is, is slot. Hoewel Suid-Afrika heelwat diepte daar het, gaan verskeie van sy sterre hulle in 2027 aan die verkeerde kant van 30 bevind.

Oor Eben Etzebeth, wat in Australië 36 jaar oud gaan wees, sê Erasmus reguit: “Hy is so atleties, maar ek weet nie of hy nog ’n Wêreldbeker in hom het nie.”

Met Jean Kleyn (34 in 2027) en RG Snyman (32 in 2027) ook aan die ouer kant, sal Erasmus in die rigting van ’n speler soos die 25-jarige Stormers-slot Salmaan Moerat kyk vir 2027 se toernooi.

“Op haker is ons dalk ook ’n bietjie dun,” sê Erasmus met verwysing na die feit dat Marx in 2027 33 jaar oud gaan wees en Mbonambi 36.

Fourie, wat die reserwehaker was ná Marx se besering, is reeds 37 en Joseph Dweba, een van die ongelukkiges vanjaar, is 28.

AGTERLANGS

Die losskakel-held Handré Pollard het ’n kans om in 2027 in sy vierde agtereenvolgende Wêreldbeker-toernooi te speel. Hy sal dan 33 jaar oud wees.

Erasmus sê die 26-jarige Manie Libbok, wat dié seisoen as losskakel begin het toe Pollard beseer was, gaan net beter word.

“Ons sal net lekker hard aan sy stelskopwerk werk. Sacha Feinberg-Mngomezulu (21) is besig om deur te kom. Curwin Bosch (26) het volwasse geraak (as ’n rugbyspeler).

“Jy kan na hom kyk as ’n 10 én 15. Damian Willemse (25) kan tien speel.”

Benewens Feinberg-Mngomezulu en Bosch, is nog ’n potensiële Wêreldbeker-debutant in 2027 die Haai-heelagter Aphelele Fassi.

Hoewel die 37-jarige Bok-agtsteman Duane Vermeulen in sy laaste Wêreldbeker-toernooi gespeel het, is die deur oop vir twee jong Turke van onderskeidelik die Bulle en die Stormers, Elrigh Louw (24) en Evan Roos (23), om in 2027 vir die Bokke uit te draf. Die 28-jarige Jasper Wiese, wat min speelkans teen die einde van vanjaar se toernooi gekry het, sal gewis nie net weggesmyt word nie.

Nog spelers wat volgens Erasmus ’n goeie kans het om in 2027 in hul tweede opeenvolgende WB-toernooi te speel, is die stut Ox Nché (28), die flank Marco van Staden (28) en die twee Haaie-skrumskakels Grant Williams (27) en Jaden Hendrikse (23).

“Dan het jy André Esterhuizen (29) en Canan Moodie (20) op senter. Op vleuel het jy Kurt-Lee Arendse (27). Cheslin Kolbe (30) het nie vaart verloor nie.”

Die veelsydige stut Thomas du Toit, wat in 2019 gespeel het, maar ongelukkig was om ’n plek in die 2023-groep mis te loop, is nog ’n speler wat deur Erasmus genoem word as ’n kandidaat vir 2027.

Benewens Nienaber, verloor die Bokke ook hul Ierse aanvalsafrigter Felix Jones. Erasmus sê dis ’n groot slag.

“Hulle (Jacques en Felix) stap met goeie kennis weg, maar ons het net sulke goeie kennis by hulle gekry. Die wiel draai. Ek dink ons paaie sal weer vorentoe kruis.

“Engeland kry ’n juweel in Felix. Hy werk hom dood. Oggend, middag en aand. Jacques is presies dieselfde ...”

VOLGENDE

Erasmus se grootste onmiddellike uitdaging is twee toetse teen Ierland op 6 en 13 Julie volgende jaar. Die Iere was die afgelope paar jaar Suid-Afrika se tier, en het die Bokke hul enigste nederlaag in vanjaar se Wêreldbeker toegedien.

Suid-Afrika se laaste oorwinning oor Ierland was op 25 Junie 2016 in die Baai.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United | Liverpool 4 vs 2 Tottenham Hotspur | Brighton 1 vs 0 Aston Villa | Chelsea 5 vs 0 West Ham LaLiga: Rayo Vallecano 0 vs 1 Almería | Sevilla 3 vs 0 Granada | Valencia 0 vs 1 Deportivo Alaves | Celta Vigo 3 vs 2 Villarreal | Osasuna 0 vs 2 Real Betis SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta | AS Roma 1 vs 1 Juventus | AC Milan 3 vs 3 Genoa | Empoli 0 vs 0 Frosinone | Hellas Verona 2 vs 1 Fiorentina | Cagliari 1 vs 1 Lecce #N/A Currency: GBP to NAD 23.2 | EUR to NAD 19.99 | CNY to NAD 2.57 | USD to NAD 18.6 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.12 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.5 | USD to KES 130.48 | USD to NGN 1404.8 | USD to ZAR 18.61 | USD to ZMW 27.25 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 76929.5 Up +0.20% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1715.92 Up +1.01% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13375.47 Up +0.10% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26429.69 Up +1.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 315.90/OZ UP +0.03% | Copper US$ 4.51/lb DOWN -0.0095 | Zinc US$ 2 894.50/T DOWN -2.02% | Brent Crude Oil US$ 83.66/BBP UP +0.13% | Platinum US$ 974.40/OZ DOWN -0.0043 #N/A