Jaco Engels en JP Nel (afrigters van Strela in Kazan) en Rynhard van As toe dinge nog beter gegaan het in Rusland. Foto verskaf
Jaco Engels en JP Nel (afrigters van Strela in Kazan) en Rynhard van As toe dinge nog beter gegaan het in Rusland. Foto verskaf

Onsekere tye vir SA rugbymanne in Rusland

Rugby
Michael Green
Dis onsekere tye vir Suid-Afrikaanse rugbyspelers en afrigters wat hulle tans in Rusland bevind, sê Rynhard van As.

Van As, ’n voormalige breier van die SWD-Arende, is al sedert Maart 2019 ’n hulpafrigter van Enisei STM in Krasnojarsk, die derde grootste stad in Siberië.

Volgens hom het die inval in Oekraïne ’n donker wolk oor rugby in Rusland gewerp.

“Ons was besig met ’n oefenkamp in Antalya in Turkye (toe die oorlog begin het) en sou op 6 Maart in Sotsji in die Europese reeks gespeel het,” sê hy.

“Op 28 Maart het Europa Rugby besluit dat ons (Russiese klubs) nie mag speel nie en Wêreldrugby het Rusland verbied om in enige internasionale kompetisies te speel.”

Van As sê sover hy weet, gaan die plaaslike Russiese reeks steeds voort soos beplan en is dit gereël om op 10 April af te skop.

“Die lewe in Rusland is op die oomblik nog op die oog af normaal. Almal gaan aan soos in die verlede en dis nie asof ons voel ons is in gevaar of so nie,” sê Van As.

“Weens die sanksies teen Rusland vind ons Suid-Afrikaanse manne dat dit wel moeilik is om geld na Suid-Afrika te stuur.”

Nog nie enige Russiese spelers in sy klub is opgeroep om in Oekraïne te gaan veg nie.

“Ons SA manne (by Enisei) het almal kontrakte tot die einde van Junie en daarná is dinge maar baie onseker as gevolg van die finansiële sanksies en ook die baie geld wat die regering nou op die oorlog spandeer,” sê Van As.

“Van die klubs het bykomende borge, maar almal verkeer onder druk. Ons probeer maar positief bly en probeer ’n verskil maak waar ons kan.”

Daar is tans ongeveer 30 Suid-Afrikaners wat hul rugby in Rusland speel.

Onder hulle tel die voormalige Southern Kings-skrumskakel Poerie van Rooyen, Kings-heelagter Leighton Eksteen, Griekwa-stut Nic Oosthuizen en SWD-Arende slot Wynand Grassmann.

Jaco Engels, wat vir Namibië en verskeie spanne in SA gespeel het, en sy voormalige spanmaat by diue Blou Bulle, JP Nel, rig Strela af en Lodie van Staden is Dinamo se breier.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer