Old Boys weer die T20-kampioene

Klubkrieket
Tielman Van Lill
WHS Old Boys (108 vir die verlies van 2 paaltjies in 15.2 boulbeurte) onttroon Wanderers (104/8 in 20) in Krieket Namibië se T20-premierligafinaal gistermiddag by Wanderersveld.

Old Boys het gisternamiddag by Wanderers in Windhoek met ’n jong span sy heerskappy as Namibië se voorste T20-premierligaklub op omvattende wyse aangekondig deur met agt paaltjies te wen.

Wanderers, wat die loot gewen het, het gekies om eerste te kolf en is tot 104 vir agt in die toegelate 20 boulbeurte beperk.

Zacheo Janse van Vuuren was uiters ekonomies vir Old Boys met twee paaltjies vir 20 lopies in vier boulbeurte. Tangeni Lungameni het gevolg met 2/25 in vier en Henry van Wyk met 2/27 in vier. Gerhard Erasmus se 1/6 in vier het Wanderers se lopiekraan toegedraai en Shaun Fouché (1/22 in 4) het gehelp om die gasheer verder onder druk te plaas.

Wanderers se topvier kolwers JC Balt (1), Niko Davin (1), Michau du Preez (10) en JJ Smit (26) is goedkoop laat stap. Nyasha Nyashadzaishe was uiteindelik Wanderers se voorste lopiemaker met ’n vegtende 32 nie uit nie van 29 balle.

Old Boys se aanvangskolwers JP Kotzé (46) en Malan Kruger (42) het min moeite ondervind in hul vennootskap van 73 lopies in die eerste tien boulbeurte. Gerhard Erasmus (15 nie uit nie) het gou die laaste lopies van 13 aflewerings na die telbord vir ’n agtpaaltjie-sege gejaag.

JJ Smit (1/22 in 3) en Niko Davin (1/4 in 1) was suksesvol vir Wanderers met die bal in die hand.

Old Boys het tien viere en vier sesse geslaan, terwyl Wanderers agt viere en twee sesse behaal het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer