Aksie uit ’n vroeër wedstryd tussen Kudus en Unam op Jan Wilken-stadion in Walvisbaai. Foto Leandrea Louw
Aksie uit ’n vroeër wedstryd tussen Kudus en Unam op Jan Wilken-stadion in Walvisbaai. Foto Leandrea Louw

Nog ‘n tawwe wedstryd wag vir Kudus teen Unam

Otis Daniels
Indien jy nie genoeg diepte of opgewasse voorspelers van Premierliga-gehalte in jou span het nie bly liewers weg, want dis genadeloos in die geselskap van die top rugbyspanne in die land.

FNB Kudus reis die naweek weer na die binneland vir die derde agtereenvolgende naweek om teen FNB Unam kragte te meet in liga wedstryde en ook te kompeteer vir die Chandler Plato trofee. Die twee klubs ding elke jaar mee om die beker om eer te betoon aan ’n legende in Namibiese rugby.

FNB Kudus II het in hul eerste kragmeting op hul tuisveld met 25-10 vasgeval. Die verdedigende kampioen van die Reserweliga het hulle intussen reggeruk en sal môre alles in die stryd werp om aan die wenkant te eindig en hul posisie op die punteleer te verbeter.

FNB Unam is egter soos almal weet ’n gedugte span en voor hul tuisskare sal Kudus hul keer moet ken en op alle silinders moet vuur.

Hulle kan beslis nie kan toelaat dat die studente (net soos Rehoboth verlede naweek) op hul foute teer en blitsvinnig punte aanteken nie.

Daar word verwag dat Kudus se agttal weer voorlangs sal probeer domineer, hoewel hul teen ’n ietwat swaarder pak voorspelers te staan gaan kom. Ondersteuners sou graag wil sien dat hulle ’n paar dryfmaalbewegings vanaf die lynstane uitvoer. ’n Klipharde wedstryd propvol opwinding word verwag.

PREMIERLIGA

Die herontmoeting tussen die twee klubs se eerste spanne is egter die een wat die aandag gaan trek en nie misgeloop moet word nie.

FNB Kudus I het in die eerste rondte vir Unam 1 verras met hul inklim spel en gemaklik met 20-5 gewen.

Môre se stryd is egter ’n perd van ’n ander kleur, want Unam op hul tuisveld is nooit maklik nie.

Kudus 1 word voorlangs versterk met die terugkeer van stut Craig Swartz en die flanke Cameron Langenhoven en Joshua Jacobs.

Die immer gevaarlike heelagter of vleuel Chad Plato maak sy buiging weer na ’n jaar of wat weg van die klub. Hy kom te staan teen sy gewese spanmaats nadat hy tevore ook in die Unam-trui uitgeblink het.

Die verwagte stryd in die middeveld tussen die Unam-manne soos Camlo Martin en Darryl Welmann teen Kudus se Justin Newman en PJ Walters behoort enige rugbyliefhebber opgewonde te hê.

Unam 1 voor hul tuisskare is weliswaar die gunsteling, maar tog weet hulle dat niks op ’n skikbord vir hulle gegee gaan word nie.

FNB Kudus nooi die Walvisbaaiers in Windhoek uit om die span te kom aanmoedig.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer