Nepal druk Eagles se rug teen muur

Krieket
In 'n ongenaakbare stryd het Nepal gister die oorhand gekry.
Tielman Van Lill
’n Kurkhoringdroë kolfblad was gister in Kirtipur vir Nepal voorberei wat die tuisspan bevoordeel het om Namibië se Richelieu Eagles met twee paaltjies te skok.

In die pylvak van die 2019-2023 ICC Wêreldbeker Liga Twee is dié onverwagse nederlaag ’n terugslag vir die Eagles se planne en plaas hulle onder nóg meer druk vir hul oorblywende wedstryde.

’n Herbesinning oor die samestelling van die Namibiese span vir vandag se ewe belangrike wedstryd teen Skotland lyk ook waarskynlik, het kaptein Gerhard Erasmus agterna in die onderhoud erken.

Die gesondheid van Jan Frylinck, wat in sy terugkeerwedstryd ná ’n enkelbesering gekolf, maar nie geboul of veldwerk gedoen het nie, kan ’n belangrike faktor in die spankeuse vir vandag wees. Die aanduidinge is dat die Namibiërs straks vandag sonder hom sal moet klaarkom.

“Ek wil nie die verlies van die loot die skuld gee nie, want Nepal het uitmuntend gespeel,” het Erasmus gesê.

“Ek het gereken ons het in ons kolfbeurt ’n goeie grondslag vir ’n wentotaal gelê, maar uiteindelik het ons dalk net nog een uitstaande boulvertoning benodig ter ondersteuning van twee manne wat behoorlik hul kant gebring het.

“Om Jan en JJ (Smit, wat die toer met ’n besering misloop) te vervang, is ’n groot uitdaging, maar ons het hard gewerk om ons diepte te verbreed.”

Namibië, ingestuur om eerste te kolf, het danksy ’n puik 137 van Michael van Lingen op nommer drie ’n oënskynlik verdedigbare teiken van 286 vir die gasheerspan in hul eerste van twee internasionale eendagwedstryde in Nepal gestel.

Dit is Van Lingen se derde ODI-honderdtal en tweede ná mekaar, nadat hy teen dieselfde opposisie in Desember in Windhoek ook 121 aangeteken het.

Gerhard Erasmus (56 van 79 balle) het vanaf 45/2 ’n vennootskap van 124 lopies saam met Van Lingen gebou, terwyl Zane Green (34 van 19 balle, 4x4 1x6) ’n noodsaaklike versnelling in die kolftempo teweeg gebring het.

Ruben Trumpelmann (11 van 4 balle, 1x4 1x6) was ook lus om ’n verskil te maak voor hy uitgevang is.

Karan KC het vir die Rhinos 5/61 in 10 boulbeurte geneem en die draaier Sandeep Lamichhane 3/66 in 10 om die Eagles tot 285 almal uit in 50 beurte te beperk.

RHINOS VEG TERUG

Nepal, in ’n oorlewingstryd om sy ODI-status te behou, het gister sy hoogste suksesvolle lopiejaagtog nóg in ’n eendagwedstryd behaal.

Die Rhinos het Aasif Sheikh (0) verloor toe Bernard Scholtz hom in die eerste boulbeurt geboul het. Nommer drie Gyanendra Malla is vir 25 deur Nicol Loftie-Eaton ná 11.1 bb been voor paaltjie betrap

Maar aanvangskolwer Kushal Bhurtel en kaptein Rohit Paudel (72 van 76 balle, 7x4, 3x6, gevang & geboul Ruben Trumpelmann), het hulle in ’n 133-vennootskap ingegrawe terwyl gevaarligte vir die toerspan geflikker het.

Die Eagles moes paaltjies kry sonder Jan Frylinck en ondanks een leë boulbeurt elk deur Scholtz, Tangeni Lungameni en Pikky ya France het Nepal selde onder die druk van die vereiste kolftempo geswig.

’n Paaltjie direk ná die koeldrankies deur Trumpelmann het Nepal (186/3 na 33.1 bb) effens van koers gebring.

Die groot tuisskare se hoop was op Bhurtel, wat sy eerste eendaghonderdtal in die 42ste bb van 99 balle (9x4, 4x6) behaal. Bhurtel se aanslag eindig uiteindelik met 115 (113 balle, 10x4, 4x6, geboul Loftie-Eaton, gevang Ya France) toe net nog drie lopies nodig was. Hy is uiteraard as speler van die wedstryd bekroon.

Nepal moes van die laaste 48 balle 46, maar behaal dit binne net 34 balle om die sege met twee paaltjies en 14 aflewerings oor te verseker.

Sundeep Jora dra 28 by (24 b, 3x4, 1x6, geboul Lungameni, gevang Ya France) en Karan KC eindig met 20* (12 b, 1x4, 2x6).

Vir die Eagles het Trumpelmann (3/48 in 10), Loftie-Eaton (3/54 in 5.4), Scholtz (1/51 in 10, 1 leeg) en Lungameni (1/44 in 10, 1 leeg) paaltjies geneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer