• Tuisblad
  • Sport
  • Neil Powell neem Haai-leisels ná Everitt bedank
Sean Everitt (regs) het bedank as hoofafrigter van die Haaie. Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, sal die seisoen die span se hoofafrigter wees. Foto TheSouthAfrican.com
Sean Everitt (regs) het bedank as hoofafrigter van die Haaie. Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, sal die seisoen die span se hoofafrigter wees. Foto TheSouthAfrican.com

Neil Powell neem Haai-leisels ná Everitt bedank

Rugby
Marnus Kok
Minder as 24 uur ná die Haaie se vernederende nederlaag teen Cardiff Sondagaand in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) het Sean Everitt bedank as hoofafrigter van die Haaie.

Die Haaie het Maandag net voor 20:00 in ’n verklaring aangekondig dat Everitt (52) en die unie se paaie geskei het.

Neil Powell, die unie se direkteur van rugby, sal vir die res van die VRK-seisoen en ook in die Europese Kampioenebeker die hoofafrigter wees.

Powell (44) het hom in September by die Durbaniete aangesluit nadat hy tevore die Blitsbokke afgerig het.

Die Haaie se nederlaag van 0-35 Sondagaand teen Cardiff in Durban het nie goed afgegaan by die unie se bestuur nie. In ’n omtrent ongehoorde stap het Eduard Coetzee, uitvoerende hoof van die Haaie, Sondagaand op ’n nuuskonferensie belanghebbendes en ondersteuners om verskoning gevra vir die loesing. Hy het toe belowe dat alles moontlik gedoen sal word om sake reg te stel.

Luidens die verklaring het albei partye, Everitt en die Haaie, ooreengekom dat hy sal bedank.

“Die besluit is geneem in die beste belang van die span vorentoe,” sê Coetzee in die verklaring.

Everitt was sedert 2008 in verskeie afrigtingsrolle by die Haaie betrokke.

“Hierdie is ’n hartseer verwikkeling vir my,” sê Everitt.

“Partykeer stem die uitslae nie ooreen met die onvermoeide moeite wat ingesit word nie. Ek was vir byna 15 jaar deel van die unie en het altyd die span se beste belange op die hart gedra. Ek gaan weg sonder enige spyt.”

Volgens die verklaring bly die res van die Haaie se afrigtingspan dieselfde.

• Die Haaie kom Vrydagaand in ’n VRK-kragmeting teen die Ospreys in Durban te staan.

– Netwerk24

Kommentaar

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer