Mungandjela se kans in O2 Arena

Boks
Die Namibiër het die afgelope jare in 'n hoër gewigsklas meegeding en is nog nooit uitgeslaan nie.
Andrew Poolman
Sy heel eerste boksgeveg buite Namibië is môreaand in een van die sport se ikoniese venues – die O2 Arena in Londen – maar Emmanuel Mungandjela sê hy voel nie onder druk oor die geleentheid om vir die vakante Internasionale superliggewigtitel van die Wêreldboksraad (WBC) te baklei nie.

Die 34-jarige Namibiër kom teen Ierland se onoorwonne 22-jarige vooruitsig Pierce O’Leary te staan.

Mungandjela, bekend as The Lion, se professionele boksrekord ná 20 gevegte staan op 16 oorwinnings, waarvan sewe met uitklophoue was, drie nederlae en een gelykopuitslag.

Sy beroepsloopbaan het in 2013 begin met ’n gelykopgeveg teen Jason Mashala in die superliggewigklas (63.7 kg). Van toe af tot nou het hy egter as ’n weltergewig geboks (66.67 kg), met drie nederlae binne die eerste 18 maande, insluitend met punte teen ’n jong Mikka Shonena, wat later die WBO Afrika-titel in dié gewigsklas gewen het.

Hy is nog nooit uitgeslaan nie en sy huidige string van 13 opeenvolgende oorwinnings sluit Tommy Hango (2015, tegniese uitklophou in ronde 4), Peter Malakia (2016, uitklophou in ronde 3), Ebenestus Kaangundue, Steven Shimbonde en Chikondi Makawa (Malawi) in voor twee punteseges teen Hedison Nghipondoka was (tien rondes in November 2020 op Eenhana, en vier rondes by die Windhoek Buiteklub in Oktober 2021).

Sy mees onlangse geveg was in Maart vanjaar op Helao Nafidi, toe hy vir Benhard Bernhard (toe 6-0) eenparig met punte in tien rondes geklop het om die Namibiese kampioengordel te behou wat hy in 2017 teen Kaangundue gewen het.

“Hy is baie gemotiveerd vir die geveg, wat beslis die taaiste van sy professionele loopbaan sover is,” sê sy afrigter en promotor Nestor Tobias.

Mungandjela is terdeë bewus dat hy vir homself groot naam kan maak indien hy vir ’n opskudding sorg.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid, dit is inderdaad ’n massiewe geveg vir my. Ek gaan nie druk op myself plaas nie en my eie boksstyl volg en my beste gee en my kans aangryp soos dit opduik,” het Mungandjela met vertroue gesê.

O’Leary, met die vegnaam Big Bang, handhaaf sover ’n foutlose rekord as beroepsbokser met tien oorwinnings, waarvan ses met uitklophoue.

Hy word beskryf as ’n teenaanvaller met natuurlike slaankrag. In sy mees onlangse geveg het hy in die tweede ronde met ’n regter teen die kop vir Robin Zamora (18 gewen, 17 verloor) van Nicaragua hard geskud en sy bene het dadelik gewankel, sodat die skeidsregter oombliklik die geveg beëindig het.

O’Leary teen Mungandjela is op die voorprogram vir die hoofgeveg tussen twee Britse supermiddelgewigte, Zach Parker (22-0) en John Ryder (31-5), wat sake om die WBO se tussentydse wêreldkampioengordel sal uitspook.

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer