Lerena net ‘voorbereiding’ vir Usyk-geveg

Boks
Michael Green
Daniel Dubois se stryd teen die Suid-Afrikaner Kevin Lerena sal volgens sy afrigter as voorbereiding dien vir ’n groter geveg teen Oleksandr Usyk.

Dubois, ’n Brit, verdedig sy “gewone” swaargewigtitel van die Wêreldboksvereniging (WBV) Saterdag in die Tottenham Hotspur-stadion in Londen teen Lerena.

Tyson Fury verdedig sy Wêreldboksraad (WBR) titel in dieselfde toernooi teen Derek Chisora.

“Ons sien die geveg teen Lerena as voorbereiding vir Usyk,” het Dubois se afrigter, Shane McGuigan, aan Boxing Scene gesê.

“Dis ook ’n ou wat van junior swaargewig af opgekom het. Hy spring nie so baie rond soos Usyk nie, maar hy beweeg sy kop en is ’n moeilike teiken.

“Hy is boonop, nes Usyk, ’n hotklou. So dit sal ’n goeie toets wees.”

McGuigan het ook daarop gewys dat mense nie sy bokser se titel moet onderskat nie.

“Usyk het die volle WBV-titel en hy het die titels van die IBF (Internasionale Boksfederasie), WBO (Wêreldboksorganisasie) en die IBO (Internasionale Boksorganisasie). Fury het die WBR-titel. Daniel se titel as WBV se gewone kampioen beteken basies dat hy die eerste aanspraakmaker op Usyk se titel is,” sê hy.

Dubois het 17 van sy 18 oorwinnings in die geldkryt met uitklophoue behaal.

“Hy is ’n harde slaner, so ek sal my spoed moet gebruik om hom van balans af te kry,” het Lerena aan Bad Left Hook se webwerf gesê.

“Ek is nie dom nie; ek weet ’n taai geveg wag op my. Maar ek weet ook dat hy (Dubois) nog nooit teen iemand soos ek baklei het nie.”

Ter voorbereiding van sy kragmeting met Dubois het Lerena teen die gedugte Martin Bakole van die Kongo geskerm.

“Ek kan my nie voorstel dat hy (Dubois) harder as Martin slaan nie. Ek skrik ook nie omdat hy groter as ek is nie, ek het al teen Mariusz Wach, wat selfs groter as hy is, baklei en gewen,” sê Lerena.

• Saterdag se toernooi word van 20:00 op SS 210 uitgesaai.

• Die junior swaargewig Tommy Oosthuizen het intussen sy geveg Sondag teen Mussa Ajibu van Malawi by die Carousel-casino net buite Pretoria maklik met ’n tegniese uitklophou in die vierde ronde gewen.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer