Laaste SWA-veteraan van 1955 oorlede
Rugby
Joey Heigan was 'n staatmaker in die eerste Suidwes-spanne wat op provinsiale vlak in Suid-Afrika begin meeding het.
Oom Joey Heigan was sover bekend die oudste lewende rugbyspeler van die destydse Suidwes-Afrika, toe hy Donderdag op die ouderdom van 89 jaar oorlede is.
Heigan was die laaste lewende lid van die Suidwes-span wat in 1955 in Windhoek teen die Britse Leeus-toerspan gespeel en met 9-0 verloor het.
Drie jaar tevore was hy nog ’n matriekseun by Windhoek Hoërskool, toe hy as losskakel gekies was om Suidwes-Afrika vir die eerste keer teen Suid-Afrikaanse provinsiale unies te verteenwoordig. Hy het in Junie 1952 in elk van S.W.A se drie toerwedstryde gespeel (verloor 3-11 teen Griekwas in Kimberley; verloor 8-26 teen Wes-Transvaal op Klerksdorp; verloor 11-15 teen Vrystaat in Bloemfontein).
Heigan het sy klubrugby vir Wanderers gespeel en het hom as Suidwes se losskakel gevestig totdat hy in 1962 sy laaste provinsiale wedstryd gespeel het.
Gedurende dié era het die All Blacks ook in 1960 ’n toerwedstryd in Windhoek gespeel en het met 27-3 gewen. Nog ’n noemenswaardige uitslag was Noord-Transvaal (vandag die Blou Bulle) se oorwinning met 13-8 in Windhoek in 1957.
Heigan is destyds beskryf as ’n losskakel met ’n puik taktiese skopvoet, maar ook die oog vir ’n gaping om maklik met venynige breekslae vorendag te kon kom. Hy is twee keer na Springbokproewe genooi en is veral as ongelukkig beskou om nie die toerspan na Nieu-Seeland en Australië in 1956 te haal nie, volgens die sportjoernalis Helge Schütz se onlangse gedenkboek oor Wanderers se 100-jarige bestaan.
Heigan het ná sy speeldae ook as ’n administrateur en Suidwes-keurder diens gedoen.
’n Gedenkdiens word vandag in Kaapstad gehou.
DIE 1955 LEEUS
Vir die 1955 Leeus se toerwedstryd in Windhoek het kaartjies op die Mabel Vlok-stadion se hoofpawiljoen een pond tien sjielings gekos, of een pond vir dié wat bereid was om ’n sitplek agter die pale te kry. Die stadion het 4 500 sitplekke gehad.
In ’n koerantberig vooraf (Die Suidwester, 25 Junie 1955) is dit gestel dat dit die eerste sportgeleentheid in die land se geskiedenis sou wees wat op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie se radiosenders uitgesaai sou word, met kommentators in beide Afrikaans en Engels.
Op die pawiljoene sou Voortrekkers en Boy Scouts die aanwysings na die genommerde sitplekke hanteer.
Melding is ook gemaak dat die Britse toerspan in Windhoek ’n besoek by die Suidwes-Brouery sou aflê.
Die Leeus het voor hul aankoms in Windhoek reeds vier wedstryde gespeel. Hul openingswedstryd teen Wes-Transvaal is op Potchefstroom met 6-9 verloor, maar hierna het die Britte op dreef gekom met seges teen Griekwas (24-14), Noordelike Universiteite op Ellispark (32-6) en die Vrystaat in Bloemfontein (31-3).
Hierteenoor het die Suidwesters die hele seisoen tot in daardie stadium nog geen wedstryd van 80 minute gespeel nie.
Die Suidwester-Woensdagkoerant van 6 Julie was vol lof vir die kaptein en agtsteman Freddie Koch en sy 14 spanmaats se dapper vertoning teen die Leeus. Die Britte moes baie hard werk vir hul drie onverdoelde drieë (wat elk drie punte getel het), terwyl S.W.A. ongelukkig was dat twee byna seker drieë verlore gegaan het.
“Dat dit een van die mooiste rugbywedstryde is wat nog ooit in Windhoek afgespeel het, sal niemand betwyfel nie.
“Gister het Suidwesters ook vir die eerste keer in die geskiedenis geleentheid gehad om hul eie provinsiale span op die tuisveld in aksie te sien en te beleef hoe ons verdedigers die Leeus harde bene laat kou het. Sulke dodelike laagvatte is genoeg om enige span wat die bal wil laat loop, mismoedig te maak.”
In die destydse rugby-era voordat plaasvervangers toegelaat is, was dit ook ’n ernstige terugslag vir Suidwes toe Tiekie Blaauw vroeg in die wedstryd sy skouer beseer het en dus nie langer skrumskakel kon speel nie. Ondanks baie pyn het Blaauw in die agterlyn voortgespeel, terwyl losvoorspelers die taak as skrumskakel moes oorneem.
Op grond van sy vertoning in hierdie wedstryd is die vleuel van Tsumeb, Sias Swart, na die Springbokproewe genooi. Swart het die eerste Springbok in Suidwes se geskiedenis geword toe hy vir die eerste toets teen die 1955 Leeus gekies is. Hy het ’n drie gedruk in die naelskraapse verloortoets op Ellispark (22-23), maar hy is daarna weggelaat en dit was sy enigste verskyning in ’n toets.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie