Kyk wie is terug in die Wêreldbeker!
Krieket
Die harder werk om hul spelpeil nog ’n paar kerwe te lig, mag nou amptelik begin vir die Namibiese junior krieketspan wat gister sy kwalifisering vir volgende jaar se o.19 Wêreldbeker in Sri Lanka bevestig het.
In die kwalifiserende toernooi in Tanzanië het bedrieglike kolftoestande en lae totale op stadige blaaie met min of oneweredige wip dit moeilik gemaak om die ware vermoëns van die kolwers te beoordeel.
Verskeie van die Walvis Bay Salt Eagles se oorwinnings die laaste week is deur ’n kombinasie van hardnekkige stertkant-kolfpogings, goeie atletiese veldwerk en puik boulwerk deur snellers soos Jack Brassell en Junior Kariata beklink.
Die veelsydige bydraes van die kaptein en onderkaptein, Alexander Volschenk en Gerhard Janse van Rensburg, was ook deurlopend ’n sleutel-element van die suksesvolle toer.
Die Namibiese juniors se kwalifisering is ’n hoogs betekenisvolle deurbraak vir die plaaslike sport, nadat Namibië se greep op die vasteland se Wêreldbeker-posisie ná 2018 twee keer lelik uit hul hande gegly en allerhande twyfel oor die toekomstige vooruitsigte veroorsaak het.
Die afrigterspan van Oscar Nauhaus en Pierre de Bruyn het egter bygedra om ’n talentvolle kombinasie vol belofte te smee, wat nou hul visier kan instel om die beste spanne ter wêreld in Sri Lanka te gaan ontmoet.
Die Namibiërs het voor die toernooi ’n opwarmwedstryd teen Tanzanië verloor – maar het klaarblyklik hul les geleer.
Hul openingswedstryd teen Uganda het uitgereën, voordat opeenvolgende oorwinnings teen Tanzanië, Kenia, Sierra Leone en gister teen Nigerië gevolg het.
Die kaptein Volschenk, nadat hy die loot gewen het, was gister sy span se topkolwer met 34 van 42 balle (drie viere, een ses), wat Namibië op koers vir sy totaal van 148/9 in 50 boulbeurte gehou het.
Ewe waardevolle kolfbeurte is deur aanvangskolwer Van Rensburg (25 van 50 balle, 2x4 1x6) en later deur Franko Bergh (12 van 46 balle) en Brassell (19 nie uit nie van 52 balle, sonder ’n grenshou) gespeel.
Die boulers PD Blignaut (speler van die wedstryd met 5/23 in 10 bb) en Zacheo van Vuuren (3/22 in 9) het uitgeblink om Nigerië vir 95 in 37 boulbeurte uit te haal, vir ’n oorwinning met 53 lopies.
• Verlede maand het Nieu-Seeland se o.19’s ook vir die Wêreldbeker gekwalifiseer, nadat Nepal in Februarie deur die Asiatiese uitduntoernooi gevorder het.
Elf spanne kwalifiseer outomaties vanweë hul status as die beste geplaaste volle ICC-lidlande by die vorige Wêreldbeker in 2022, naamlik Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Ierland, Pakistan, Suid-Afrika, Sri Lanka, Wes-Indië en Zimbabwe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie