Klubs speel proewe vir eerste stuk van legkaart

Sewesrugby
Andrew Poolman
Môre se klubtoernooi en nasionale sewesproewe aangebied deur die Namibië Rugby-unie (NRU) sal die eerste tree wees vir die Namibiese sewesspan om hom vanjaar op kontinentale vlak te vestig en moontlik met die grotes vir ’n plek by die 2024 Olimpiese Spele in Parys mee te ding.

Met gister se ietwat laat bevestiging van FNB Kudus se byvoeging tot die program by die Hage Geingob-stadion, is elke premierligaklub verteenwoordig, afgesien van die verafgeleë FNB Grootfontein.

David Philander is in waarnemende hoedanigheid aan die stuur as afrigter van die Namibiese sewesspan, het die NRU-beampte William Steenkamp gister bevestig.

Philander keer terug ná ’n vorige termyn as die land se sewesafrigter en neem die taak oor by Ronaldo Pedro, wat die span laas jaar na Uganda vergesel het en wat nou op sy taak as president van FNB Reho Falcon-rugbyklub toegespits is. Reho Falcon het intussen vir Eden Meyer en Frank Izaacs

Namibië kry aan die einde van Junie en vroeg-Julie die geleentheid om in ’n kontinentale uitduntoernooi sy plek oop te speel na die Rugby Afrika seweskampioenskap (16-17 September in Zimbabwe), wat die Olimpiese kwalifiserende geleentheid sal wees.

Lande soos Kenia, Zimbabwe, Madagaskar en Uganda handhaaf die afgelope jare ’n oorheersing oor hul Namibiese eweknie in sewesrugby.

Laasjaar April in Kampala het die Namibiërs hul groepwedstryde teen Madagaskar (0-41), Kenia (7-33) en Zimbabwe (17-27) verloor en is agtste uit die 14 lande geplaas nadat hulle vir Ghana met 19-10 geklop het.

Met die fokus wat Namibië vanjaar opnuut op die vyftienmanspel sal plaas vanweë sy mededinging in die Curriebeker eersteliga en later die Wêreldbeker in Frankryk, is dit ’n ope vraag hoeveel hulpbronne en toegang tot uitsoekspelers werklik tot Philander se beskikking sal wees.

Môre se toernooi sal nietemin insig bied op wat die afrigter vanjaar kan hê om mee te werk.

Vir die premierliga-kompetisie sal groep A uit FNB Wanderers, FNB Rehoboth en Trustco United bestaan, terwyl vier spanne in groep B is (FNB Unam, FNB Western Suburbs, FNB Reho Falcon en FNB Kudus).

Die program môre in die Hage Geingob-stadion:

10:00 Unam I tn Reho Falcon I

10:20 Reho Falcon 2 tn Western Suburbs 2

10:40 Rehoboth 2 tn Wanderers 2

11:00 Suburbs 1 tn Kudus I

11:20 Rehoboth I tn Trustco United I

11:40 Suburbs 2 tn Unam 2

12:00 Rehoboth 2 tn Reho Falcon 2

12:20 Unam I tn Kudus I

12:40 Wanderers I tn Rehoboth I

13:00 Suburbs 2 tn Wanderers 2

13:20 Reho Falcon 2 tn Unam 2

13:40 Reho Falcon I tn Kudus I

14:00 Unam I tn Suburbs I

14:20 Rehoboth 2 tn Suburbs 2

14:40 Wanderers 2 tn Unam 2

15:00 Wanderers I tn United I

15:20 Suburbs I tn Reho Falcon I

16:00 Rehoboth 2 tn Unam 2

16:20 Falcon 2 tn Wanderers 2

16:45 Premierliga semifinaal (A1 tn B2)

17:05 Premierliga semifinaal (B1 tn A2)

18:00 Reserweliga-finaal

18:25 Premierliga-finaal

Kommentaar

Republikein 2023-03-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer