Andreas Shoombe en Lihandra van der Smit het Namibië in 2017 in Port Elizabeth verteenwoordig. Foto verskaf
Andreas Shoombe en Lihandra van der Smit het Namibië in 2017 in Port Elizabeth verteenwoordig. Foto verskaf

Kans vir boccia-span in die weegskaal

Paralimpiese sport
Tielman van Lill
’n Boccia-span van die Namibiese Paralimpiese Komitee (NPC) het vir die eerste keer in Maart en April 2017 op uitnodiging van die Boccia Internasionale Sportfederasie (BISfed) aan die Suidelike Afrika-kampioenskap in Port Elizabeth deelgeneem. Die NPC het die vorige jaar vier spanlede gekies in dié Paralimpiese sport wat vergelyk kan word met rolbal vir atlete met erge motoriese gestremdhede. Daar was in Desember 2016 ernstig met afrigting begin. Die 40-uur reis per pad na die Suid-Kaap was om die minste te sê ’n vermoeiende en traumatiese ondervinding vir die vier kinders, wat almal in rolstoele is. Dit was die laaste keer wat Namibië aan dié kampioenskap delgeneem het. Maar nou is Namibië weer genooi om vanjaar van 16 tot 23 Mei in Johannesburg in boccia aan die Suidelike Afrika-kampioenskap deel te neem. Aangesien die eerste week van Februarie 2022 reeds verby is, lyk die kanse skraal vir plaaslike boccia-entoesiaste om in Johannesburg hul talent ten toon te stel. By navraag van Republikein of Namibië in Johannesburg gaan deelneem, het me. Memory Kalhari van die NPC gesê dié beheerliggaam het nog geen uitnodiging of skrywe van enige aard van BISfed ontvang nie. “Ek is nie seker nie (van Namibië se deelname), want die boccia-bestuurders was nog nie met ons kantoor (NPC) in verbinding nie. As daar wel so ’n uitnodiging is, vra hulle om asseblief met ons kontak te maak. Ons het nog geen uitnodiging ontvang nie,” het Kalhari gesê. Mnr. David Hadfield, BISfed se president, sê in sy skrywe: “Ek skryf om Namibië aan te moedig om aan die kampioenskap deel te neem. “Die kampioenskap is ’n direkte kwalifiserende geleentheid vir die Paralimpiese wêreldkampioenskap wat Desember in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou word. “Dis die ideale geleentheid vir talentvolle atlete om hul verskyning op die boccia-wêreldverhoog te maak en vir die volgende Paralimpiese Spele in Parys, Frankryk, te kwalifiseer. “Ons by BISfed droom van die dag wanneer boccia in Afrika in gewildheid toeneem en as ’n sport erken word. Ek hoop regtig julle (Namibië) kan deelneem. “Dis algemene kennis dat ons Namibië en ander Afrika-lande aanmoedig om die opwindende deure van boccia vir gestremde atlete te ontsluit. Ons het in 2015 met bewusmaking van die sportkode begin.” Die bekende afrigter van Paralimpiërs, Michael Hamukwaya, sê: “ons het op ’n tyd nou saam met Dagbreek-skool aan die boccia-program gewerk, maar oor die laaste drie jaar het dit doodgeloop. Ons het gehoop om saam te werk om op hierdie manier vir die kinders nasionale en internasionale geleenthede deur boccia te skep.” Boccia is vir die eerste keer by die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro aangebied waar die gasheerland die meeste medaljes geoes het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer