Juniors trap stel af teen Tanzanië
Krieket
Die Walvis Bay Salt junior Eagles is op ’n sending in Dar es Salaam, Tanzanië, waar hulle die afgelope drie dae kon akklimatiseer en by die plaaslike omstandighede aanpas.
Die o.19-Eagles begin hul veldtog Sondag teen Uganda om vir volgende jaar se o.19 Wêreldbeker in eendagkrieket te kwalifiseer. Om seker te maak, sal Namibië egter al vyf sy kragmetings moet wen.
Namibië se eerste drie wedstryde is Sondag teen Uganda, Maandag teen Tanzanië en Woensdag teen Kenia. Hulle speel ook Donderdag teen Sierra Leone en op 30 Julie teen Nigerië.
Daar is net plek vir een assosiaatland elk van Afrika, die Amerikas en Europa wat binnekort bepaal word.
Slegs die topspan sal hul tasse vir die o.19-WB in Sri Lanka saam met 15 ander lande kan pak. Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië (verdedigende kampioen), Ierland, Pakistan, Suid-Afrika, Wes-Indië, Nepal en Nieu-Seeland het reeds vir die elite geleentheid gekwalifiseer.
Indien die juniors Eagles ’n ernstige aanspraak op ’n WB-terugkeer wil maak, sal hul boulers haastig op gister se ongedissiplineerde vertoning in hul vriendskaplike opwarmwedstryd teen Tanzanië moet verbeter.
Die 51 ekstras wat gister afgestaan is, het hul ondergang beteken. Namibië (186 almal uit in 42.4 boulbeurte) het met 18 lopies verloor.
Die gasheerspan (204 almal uit in 46.2 bb) het aanvanklik gelyk of hy met die wedstryd gaan weghardloop. Ná 15 boulbeurte (78 sonder verlies) was hulle op koers vir ’n geprojekteerde totaal van 260 in 50.
Genadiglik het die Namibiërs hul boulwerk begin regruk, want daar was toe reeds 16 wydlopers en 2 foutballe geboul. Drie aflewerings later het Gerhard Janse van Rensburg sy eerste paaltjie geoes (78/1).
Jack Brassell en JW Visagie sorg toe dat Jaffari Kilongosi (84/2) uitgehardloop word. PD Blignaut het kort daarna ook deurgebreek (84/3) voordat Janse van Rensburg in die 23ste met twee opeenvolgende slagoffers (84/5) toegeslaan het.
Janse van Rensburg (3/13 in 8 bb, 4 leeg), Francois du Plessis (3/24 in 5), Blignaut (1/18 in 10) en Alexander Volschenk (2/35 in 6.2) oes Namibië se paaltjies.
Namibië met 57 ekstras (11 loslopies, 7 bylopies, 34 wydlopers, 5 foutballe) was amper Tanzanië se voorste lopiemaker.
Shaikh Basha op nommer 7 (72 van 84 balle, 10x4) het met slim roteerwerk die boulers weg van nommer elf Mohamed Mbaki (1*, 7 b) gehou en in die proses 46 in 7.2 bb geslaan.
Hul aanvangspaar Baraka Laiza (34 van 69 b, 4x4) en Ally Fentu (23 van 43 b, 3x4) het ook bygedra.
Ná Janse van Rensburg vir nul uitgevang is, het sy aanvangsmaat Hansie de Villiers (38 van 69 b, 3x4) en Visagie op drie (40 van 54 b, 5x4) goed gekolf. Hanro Badenhorst op vyf behaal 19 van 36 b (3x4) en kaptein Alexander Volschenk op sewe kry 39 van 42 b (2x4, 2x6).
Die gasheerspan, wat die loot gewen en gekies het om te kolf, het deurgaans slim boulkombinasies aangewend met linkshandige draaiers en regterarm naatboulers, of omgekeerd, wat in tandem aangeval het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie