'I don't like cricket...I love it'

Opwindend, aggressief
Henriette Lamprecht
In geen volgorde van belangrikheid nie is die volgende besliste noodsaak om in jou kattebak te laai: ‘n pak boerewors met baie koljander en vet vir happies vir die skottelbraai; ‘n stewige koelboks wat dig sluit (mét ys so koud gevries dit gaan teen sonsak jou verkose vloeistowwe darem nog ‘n koeligheid gee); ‘n nuwe sonblok faktor 50 wat vinnig in jou vel intrek en nie jou oë brand nie en genoeg is om die aansmeer ‘n paar keer te herhaal; ‘n breërandhoed (in die styl van die skeidsregter) om jou neusvelle én jou oorlelle teen die son te beskerm; ‘n sambreel wat nie die ouens agter jou irriteer nie, maar wyd genoeg skadu gooi dat die fyn en maagdelike wit vel op jou voete nie ‘n plakkie’tan’ kry en verskroei nie. Maar die heel, heel belangrikste is, bring die gees as jy vandag deel van die geskiedkundige oomblik is wanneer die Namibiese krieketspan as deel van die amptelike opening van die FNB Namibië Krieketgronde (NCG) Suid-Afrika in ‘n T20-wedstryd pak.

Daar is min dinge so vinnig, onvoorspelbaar en aksiebelaaid as T20-krieket. As jy vandag langs die veld beland as ‘n uitgenooide op ‘n korporatiewe ‘moet nooi’-lys en eintlik meer ‘n rugbyman of -vrou is en nie regtig verstaan waaroor die bohaai gaan nie, is dit belangrik om op die volgende te let om ingelig dat jy darem nie heeltemal uit jou plek skree of waai nie. T20-krieket is 'n vinnige, verkorte formaat van die spel waar elke span 'n maksimum van 20 boulbeurte in hul enkele beurt kry, met die doel om die meeste lopies aan te teken om te wen. T20, wat in 2003 deur die Engelse en Walliese Krieketraad bekendgestel is, is bekend vir sy opwindende, aggressiewe spel, wat tipies ongeveer drie uur duur, en het wêreldwyd gewild geword vir sy toeganklikheid vir nuwe aanhangers en opwindende vermaak. Waar ‘n toetswedstryd ‘n maksimum van 450 boulbeurte het en tot vyf dae kan duur, kan jy verwag dat die kolwer elke liewe bal van die bouler met mening gaan voeter om sodoende die meeste lopies in die 40 boulbeurte te slaan. Verwag dus balle wat hoog en ver gaan trek vir ‘n ses en slaan byvoorbaat dekking of, hou jou oë op die bal.

T20 is die verkorte, moderne weergawe van die spel wat in die 16de eeu ontstaan het as ‘n kinderspeletjie wat deur skaapwagters in Engeland gespeel is, en wat 'n stok en 'n bal van skaapwol gebruik het. Die eerste internasionale krieketwedstryd is in 1844 tussen die Verenigde State van Amerika en Kanada gespeel, met Kanada wat gewen het. In 1900 maak krieket sy debuut by die Olimpiese Spele, met Frankryk en Groot Brittanje as die twee mededingende spanne. Die langste krieketwedstryd in die geskiedenis was 'n gelykopuitslag in 1939 tussen Engeland en Suid-Afrika, wat 'n merkwaardige 14 dae geduur het. Die krieketreus en -ikoon Sachin Tendulkar was die eerste speler wat deur 'n derde skeidsregter in 'n 1992-wedstryd uit verklaar is, 'n belangrike stap in die bekendstelling van tegnologie in die spel. Van die os op die vark, ‘n krieketwedstryd is eenkeer gestaak omdat 'n vark op die veld gehardloop het. Die les - die spel kan opgeskort as 'n dier die speelarea binnedring. Indië, een van die voorste krieketlande, hou die unieke rekord van die enigste land wat die Wêreldbekers vir die 60-, 50- en 20-boulbeurte gewen het.

Pakistan se Shoaib Akhtar het die vinnigste bal in krieketgeskiedenis teen 161,3 km/h in 2003 gelewer, wat hom die bynaam "Rawalpindi Express" besorg het. Die bekende As-reeks tussen Australië en Engeland is vernoem na 'n doodsberig in The Sporting Times na 'n Engelse nederlaag in 1882, wat skertsend gesê het dat Engelse krieket veras is en die As na Australië geneem is.

Vandag se geskiedkundige wedstryd begin om 14:00 met Gerhard Erasmus wat die Namibiese span aanvoer en Donovan Fereira wat die Proteas op die veld lei. - [email protected]

Kliek hier: https://q.my.na/MHU3

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer