Isaia Walker-Leawere het in die sop beland oor sy daggarokery. Foto Getty Images
Isaia Walker-Leawere het in die sop beland oor sy daggarokery. Foto Getty Images

Hurricanes-slot oor vingers getik vir dagga

Rugby
Die Hurricanes-slot Isaia Walker-Leawere was vir ’n maand uit alle sport geskors nadat hy positief vir die gebruik van dagga getoets is.

Volgens Nieu-Seeland Rugby se tugkomitee het Walker-Leawere op 6 Mei in ’n Super Rugby Pacific-wedstryd vir die Hurricanes teen die Fijian Drua in Fidji gespeel waarin hy met twee geel kaarte gestraf is. Dit het dus ’n outomatiese rooi kaart geword.

Hy het toe voor Sanzaar se tugkomitee verskyn en daar is bevind dat hy nie verder gestraf sal word nie.

Walker-Leawere het egter twee dae later saam met vriende gekuier en “ontlaai” deur dagga te rook.

Hy is kort daarna vir opkikkers getoets en die dagga is in sy monster gevind.

Hy is toe vir ’n maand geskors met die begin van sy straf wat tot 5 Julie teruggedateer is.

Hy moes ook ’n dwelm-bewusmakingsprogram voltooi.

Indien hy dit nie gedoen het nie, sou sy skorsing drie maande gewees het.

Volgens Nick Paterson, die uitvoerende hoof van Dwelmvrye Sport Nieu-Seeland, word dagga nie as ’n middel beskou wat vertonings verbeter nie.

“Ons probeer al vir meer as 15 jaar om dagga van die lys van verbode middels af te kry en sal aanhou om dit te doen,” het Paterson gesê.

“Terwyl dit egter steeds op die verbode lys is, is dit beter om dit te vermy.”

– Stuff.co.nz, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer