Harde slag vir Wanderers voor semifinaal

Klubrugby
Andrew Poolman
Weens ’n wangbeenfraktuur is FNB Wanderers se nasionale senter en driedrukmasjien JC Greyling buite rekening vir môre se NRU-premierliga-halfeindstryd teen FNB Rehoboth.

Wanderers het die maksimum ses ligapunte behaal in hul laasterondte-sege oor Trustco United verlede naweek wat hul topposisie en tuishalfeindstryd verseker het.

Benewens die verlies van Greyling se ervaring op die aanval en verdediging is ’n verdere skuif in hul middelveld genoodsaak ná gisteraand se dissiplinêre verhoor van sy vennoot Bernie Hugo.

Laasgenoemde is verlede naweek met ’n rooi kaart vir kopkontak in ’n duikslag op United se JD Nel afgestuur. Hy is vir twee weke geskors.

Louis Meyer (ook ’n sterk plettervatter) is in die laaste minute van die bank af opgestuur en het skoon deurgebreek om Greyling vir sy tweede drie deur te stuur. Wanderers het dus steeds goeie opsies in die middelveld, selfs sonder Bredell Wessels (steeds aan die herstel van ’n skouerbesering) en Patrick Karsten, die nasionale o.20-uitblinker wat gekies het om sy aandag op ’n boksgeveg in Oktober te plaas.

Die Wit Hingste onder kapteinskap van Christo van der Merwe het ook ’n agttal wat die meeste opponente onder druk kan plaas, terwyl André van der Berg en Denzo Bruwer goed vir enige taktiese skopstryd voorbereid is.

Die Wanderers-afrigter, Rohan Kitshoff, het gister gesê: “Rehoboth is beslis nie ligte musiek in ’n halfeindstryd nie. Ons sal op ons beste moet wees.

“Ons het goed gevaar teen hulle tuis tydens die eerste ronde, voordat hulle twee laat drieë bygevoeg het om die punteverskil beter te laat lyk(49-24). In ons wegwedstryd het Rehoboth ons geklop gedurende die Julie-periode toe van ons nasionale spanlede uit die land was (31-37).”

’n Belangrike hupstoot in Rehoboth se afgeronde vertonings die afgelope tyd was hul aanskaffing van die blink nasionale losskakel Cliven Loubser, wat tydens die VSA Major League Rugby afseisoen aangesluit het en later vir ’n derde seisoen met die Utah Warriors sal terugkeer.

Beamptes van Rehoboth het bevestig dat die Namibië Rugbyunie ’n paar weke gelede ’n skriftelike navraag oor Loubser se kiesbaarheid ontvang het, maar daar is bevind dat sy klaringsdokumente in orde is en hy het die groen lig gekry.

Gerald Loubser, afrigter van Rehoboth, het gesê: “Ons het inderdaad met drie vrystellingsbriewe geëindig – van Utah Warriors, Major League Rugby én die VSA rugbyunie.”

Die afrigter het gister erken die senuwees knaag reeds voor hul besoek aan Pionierspark, maar het vertroue dat sy Rooi Bulle vanuit hul vierde eindposisie kan verras.

“Ons vernaamste besering is die ervare agtsteman Johann Wohler met ’n stamp teen die heup, maar ons het Charl Freygang wat ewe goed daai skoene volstaan.

“Ek beskou ons agterlyn as gelykstaande aan enige van die bestes in die liga, terwyl ons voorspelers ook vir ons ’n goeie klompie wedstryde dié seisoen laat wen het. Gelukkig het ons op hierdie laaste naweek beserings gespaar gebly, so ons het goeie momentum om die halfeindstryd in te gaan.”

KUDUS TEEN UNAM

Die verwagte terugkeer van die slot Max Katjijeko ná ’n handbesering kan vir FNB Unam van groot waarde wees in môre se ewe deurslaggewende halfeindstryd op Walvisbaai.

FNB Kudus het hulle vanjaar reeds twee keer geklop – met die skoktelling 20-5 op die hawedorp en met 34-12 in die herontmoeting.

Afrigter Gawan Esterhuizen se Kudus maak geen geheim van hul ambisie om vanjaar ongekende rugbygeskiedenis vir hul dorp te maak nie.

In hul pad staan egter die studentespan onder afrigterskap van David Philander wat ewe in staat en gemotiveer is om die klub se vierde titel sedert 2015 te wen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer