Griffons stoomroller SWD; Luiperds klop Valke

Rugby
Wim Pretorius
Die Griffons het hul onoorwonne status in die Curriebeker-reeks se Eerste Liga behou toe hy Saterdag die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Arende met 40-16 die loef afgesteek het in Welkom.

Maklik was dit egter nie.

Die SWD-Arende het die Griffons veral in die eerste helfte in toom gehou met die tuisspan se skrumskakel, Jaywinn Juries, en die besoekers se heelagter, Gene Willemse, wat elk drie strafdoele deur die pale gejaag het vir ’n wipwaentjie-stryd.

Dit was egter die voormalige Springbok-flank Oupa Mohoje wat uiteindelik deur die Griffons se verdediging kon wurm toe hy van naby af oor is vir die eerste drie van die wedstryd met die laaste beweging van die eerste helfte.

Marquit September, op binnesenter, het ná die omdraaislag die besoekers se verdediging oopgekloof toe hy soos ’n mes deur botter gesny het vir sy span se tweede drie.

Die Griffons het skoon met ’n nuwe asem in die tweede helfte gespeel en sekondes later is die generaal Duan Pretorius oor in die hoek.

Die haker Dandré Delport het sy span se vierde ingeryg, voordat die SWD-Arende ietwat aansien kon herwin toe André Manuel afgerond het.

Delport se plaasvervanger-maat Chadley Wenn het die kroon op ’n sterk tweede helfte gespan toe hy kort voor die eindfluitjie van ’n rolmaalbeweging oor is.

Die Valke-span het sy eerste nederlaag van die kompetisie gely toe hy met 25-15 vasgeval het teen die Luiperds in Potchefstroom nadat hy rustyd reeds met 20-3 agter was.

Die Luiperds se stut Ruben du Plessis sal veral nog lank breëbors rondstap vir sy vermaaklike drie in die eerste helfte.

Nadat die Valke nie Shirwin Cupido se hangskop kon bemeester nie, het die bal terug gespat tot in die hande van Pienaar van Niekerk. Hy het weggetrek en sy losskakel Martin Venter opgesoek, maar die Valke het ’n hand bygekry en die bal het weer eens los gespat. Du Plessis het dit egter soos ’n wafferse senter opgeraap en hakskene gewys om ’n goeie 25 meter voet op die versneller te sit en onaangeraak in die hoek oor te seil.

KENIANE EN GOSHAWKS WEN

• Die Simbas van Kenia het tot die Grens-Bulldogs se treurmare bygedra toe hy hom met 35-12 verslaan het.

Die span van Grens is nog segeloos in vanjaar se reeks en het reeds 283 punte in sy vyf kragmetings afgestaan.

Die oorwinning was die Keniane se eerste in vanjaar se reeks, berig die webblad van die Kenia-rugbyunie.

Paul Odera, hoofafrigter van die Simbas, het agterna gesê: “Ons het met groot selfvertroue gespeel en Grens van die begin af aangevat. Ons het met selfvertroue gespeel en ons was ambisieus genoeg om vir vyf punte te gaan in plaas van makliker drie punte.”

“Ons skrums en lynstane het baie verbeter in hierdie wedstryd. Sonder ’n stewige vaste faset is dit nie moontlik om op hierdie vlak mee te ding nie,” het hy bygevoeg.

Odera het die span se verdediging en dissipline geprys en gesê: “Ons verdediging het sedert verlede week met twee of drie vlakke verbeter. Ons duikslae en lynspoed was baie goed en wanneer ons geskop het, het ons hard opgevolg en Grens in die kiem gesmoor. Ons dissipline was veel beter as verlede week, wat verblydend is.

“Die oorwinning gee ons toergeselskap baie selfvertroue vorentoe. Dit plaas ons ook in ’n goeie gemoedstoestand terwyl ons voorberei om op 2 Julie teen Uganda te speel,” het hy gesê.

• In Kaapstad het Zimbabwe se Goshawks naelskraap met 23-22 teen Boland-Kavaliers geseëvier.

– Bygewerk van Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer