Griekwas kies Specman dadelik teen Namibiërs
Rugby
Die impak wat Rosko Specman vandeesweek in sy eerste oefensessie by Windhoek Draught Griekwas gemaak het, het die Noord-Kapenaars se afrigters oortuig om dié Springbok dadelik in die beginspan in te sluit.
Specman (33) sal Saterdag in Windhoek op regtervleuel diens doen in die Poubloues se kragmeting met Namibië se Windhoek Draught Welwitschias.
Hy het Maandag sy eerste oefensessie saam met Griekwas gehad nadat hy tot verlede maand by die Cheetahs gekontrakteer was.
Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, sê dit was ’n maklike besluit om Specman in die beginspan in te sluit.
“Hy het onmiddellik waarde toegevoeg. Die impak wat hy in sy eerste oefensessie gemaak het, was merkwaardig. Ek dink van die spelers het gesien dat hy ’n speler is wat op ’n ander vlak is en hoekom hy ’n Springbok is,” sê Bergh.
“Hy het energie na die oefening gebring en die kwaliteit van die oefening sommer verhoog. Dis vir ons lekker dat hy dadelik so ’n groot impak gemaak het en om dié rede was dit ook nie ’n probleem om hom dadelik te kies nie.”
Die vlugvoetige Specman het in 2021 in een toets, teen Georgië, vir die Bokke gespeel. Dis egter in sewesrugby waarin hy die diepste spore getrap het – hy het onder meer in 30 Wêreldreeks-toernooie vir die Blitsbokke gespeel.
Specman en Luther Obi sal die Poubloues se vleuels teen die Biltongboere wees, met Jay-Cee Nel – meer bekend as ’n senter – wat die laaste vesting sal dek.
Uit die Namibiese oogpunt is Nel ook op die radar as ’n vooruitsig, omdat hy vanweë sy afkoms vir dié land kwalifiseer, hoewel sy administratiewe dokumentasie nog nie gereed is om hom tans kiesbaar te maak nie.
Die ervare losskakel George Whitehead (33) sal die span aanvoer, met die gereelde kaptein Niel Otto (flank) wat as ’n plaasvervanger gekies is.
Dan sal die stut Cebo Dlamini ook Saterdag sy buiging vir Griekwas maak indien hy van die plaasvervangersbank af opgestuur word. Dlamini was nog verlede maand die kaptein van die Bulle se o.21-span, wat verlede maand die provinsiale reeks in dié ouderdomsgroep gewen het.
Griekwas:
Jay-Cee Nel, Rosko Specman, Tertius Kruger, Eddie Fouché, Luther Obi, George Whitehead (k), Dylan Alexander, Carl Els, Stephan Smit, Thabo Ndimande, Albert Liebenberg, Mihlali Stamper, Justin Forwood, Gustav du Rand, Eddie Davids.
Reserwes (uit): Simon Westraadt, Cebo Dlamini, Janu Botha, Godfrey Muzanargwo, Niel Otto, Michael Amiras, Raegan Oranje, Ashlon Davids, Sean Swart, Kudzwai Dube, Johan Mulder.
– Bygewerk van Netwerk24


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie