Fidjiaanse ster loop sy seun se begrafnis mis

WB-rugby
Josua Tuisova, die speler van die wedstryd in Fidji se skokoorwinning oor die Wallabies in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi, het Dinsdag sy seun se begrafnis misgeloop.

Tuisova het volgens die Fidjiaanse nuusnetwerk Fiji Village besluit om by sy spanmaats in Frankryk aan te bly.

Die 29-jarige senter het Saterdag kort voor Fidji se wedstryd teen Georgië by sy pa, Isikeli Ratulevu, gehoor sy sewejarige seun, Tito, het gesterf.

Tuisova het Fidji gehelp om die wedstryd met 17-12 te wen nadat die Fidjiane met rustyd nog met 0-9 agter was.

Tuisova is ’n minuut voordat die eindfluitjie geblaas het met ’n geel kaart vir ’n hoë duikslag gestraf.

Fidji kort net een punt uit sy laaste groep C-wedstryd Sondag teen Portugal om vir die derde keer die kwarteindronde van ’n WB-toernooi te haal.

Tuisova, wat ’n drie in sy span se sege van 22-15 oor die Wallabies gedruk het, sal een van sy span se sleutelspelers in ’n moontlike kwarteindstryd teen Engeland wees.

“Dis met swaar harte dat ons die afsterwe van ons geliefde Tito Micgabraph Donzel Ratulevu aankondig,” het ’n verklaring Vrydag in Fidji gelui.

“Hy is die seun van Josua Tuisova en Katarina Ladoge Ramoce.

“Hy was liefdevol as Tito bekend en het ná ’n lang stryd teen ’n aftakelende siekte rustig heengegaan in die hospitaal in Lautoka.”

Fidji se hoofafrigter, Simon Raiwalui, het Dindag op ’n nuuskonferensie gesê dis ’n private aangeleentheid.

“Ek wil nie nou daaroor gesels nie. Josua het ons met respek gevra om dit nie te bespreek nie,” het hy gesê.

– Netwerk24, AFP

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer