Erasmus (96*) kry Skotte nie gekeer

Krieket
Tielman Van Lill
Gerhard Erasmus se 96 nie uit nie was gister by die United-veld vergeefs toe Skotland (213-6 in 42.1 boulbeurte) sy Namibiese Richelieu Eagles (211/9 in 50) met vier paaltjies oorskadu het.

Twee waardevolle punte in die ICC Wêreldbeker Liga 2 is dus vir die Skotte bygevoeg.

Die Skotse naatboulers Safyaan Sharif en Brandon McMullen was vrek suinig met die lopies en het tussen hulle ses Eagles-kolwers uitgeknikker. McMullen het Divan la Cock vir 21 agter die paaltjies laat vang, voor Michael van Lingen (2) en Nicol Loftie-Eaton (4) ook vangskote gebied het.

Sharif het JJ Smit (38), Ruben Trumpelmann (0) en Bernard Scholtz (13) se kolfkans beëindig.

Erasmus was opnuut die anker vir die Eagles met ’n vegtersbeurt van 96* van 130 balle (9x4, 1x6), terwyl Smit hom met 38 (58 b, 3x4, 1x6) in ’n waardevolle 69-vennootskap ondersteun het.

In die laaste boulbeurt deur Chris Sole kon Erasmus op 92 van die laaste vier balle net een grenshou byvoeg met sy honderdtal in sig.

Sharif (3/33 in 10 bb, 1 leeg), McMullen (3/35 in 10, 2 leeg), Chris Sole (1/46 in 10, 1 leeg) en Michael Leask (1/13 in 2) het die Eagles-kolwers nog meer in die hitte laat sweet.

Kyle Coetzer het die Skotte se kolfbeurt soos ’n weghol stoomtrein aan die gang gesit en met ’n treftempo van 122 persent 54 (10x4, 1x6) van 44 balle gemoker voor Tangeni Lungameni van hom kon ontslae raak.

Chris McBride (30), Richie Berrington (36) en Matthew Cross (19) was wel nie so tuis by die Filistyne se hoofkwartier soos Coetzer nie, maar het voortgebou om die kolftempo hoër as 5 per boulbeurt te hou. Die Eagles kon slegs teen 4.22 lopies behaal.

Boonop het McMullen (31*), Leask (18) en Mark Watt (10*) astrant die septer vir ’n sege geswaai. Waar Namibië 19 viere en 3 sesse geslaan het, het die Skotte met 28 grenshoue en 5 sesse terug gekap.

Trumpelmann (2/54 in 6), Loftie-Eaton (2/32 in 4), Scholtz (1/15 in 10, 3 leeg), Lungameni (1/29 in 7) het sukses gesmaak. Smit het wel nie ’n slagoffer afgemerk nie, maar staan net 13 lopies in 7 bb af.

Namibië en Nepal pak mekaar vanoggend by dieselfde venue.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer