Eagles-triomf sal komende opponente laat nadink
Krieket
Die Wêreldbeker-sege teen Sri Lanka is sonder twyfel een van die heuglikste dae in Namibiese sportgeskiedenis.
Die krieketwêreld is opnuut aan die gons oor Namibië, maar die Richelieu Eagles onder afrigterskap van Pierre de Bruyn se aptyt om die hoër gerekende spanne te skok, is waarskynlik nog geensins gestil ná gister se historiese triomf met 55 lopies teen Sri Lanka in die openingswedstryd van die T20 Wêreldbeker nie.
Die uitslag volg nie net op vorige T20-suksesse teen volwaardige ICC-toetslande soos Ierland en Zimbabwe in die afgelope 12 maande nie, maar die verskil van 55 lopies is boonop die grootste drag slae wat enige volwaardige lidland nóg teen ’n land met assosiaatstatus op die lyf geloop het.
Die wenkaptein Gerhard Erasmus het in sy media-onderhoud onmiddellik ná die dramatiese wedstryd hulde gebring aan die ommeswaai wat De Bruyn teweeg gebring het.
“Dit was ’n ongelooflike reis. Verlede jaar (toe Namibië in sy debuuttoernooi tot die Super-12 deurgedring het) was opwindend vir ons en ons het dit nou oortref met ’n wonderlike oorwinning.
“ Ons besef daar is nog baie werk om te doen vir die res van die toernooi. Maar ja, dit was ’n geskiedkundige dag vir ons .
“[Pierre] het sedert 2019 hierdie hele skip vir ons omgedraai; hy het ’n werklike wenkultuur in hierdie span ingeboesem.
“Met die beperkte hulpbronne tot ons beskikking, dink ek jy moet jou sake regtig noukeurig bestuur en ek dink nie daar is iemand anders wat dit sou kon doen soos hy die afgelope drie jaar nie. Dae soos vandag is ’n terugbetaling vir sy moeite.”
De Bruyn se rol om Albie Morkel en Morné Morkel, twee uitgelese voormalige Protea-spelers met reuse-ondervinding, as konsultante te betrek, het volgens die kaptein ook bygedra om dinge op die oefenveld vars te hou – “veral omdat ons met ons klein spelersbasis nie so gereeld nuwe spelers kan inbring nie.”
VERTROUE
Erasmus sê sy span weet nou dat hulle in staat is om met die grotes saam te gesels.
“Verlede jaar was dit meer van ’n bohaai en ’n kinderlike geloof dat ons op hierdie vlak tuishoort. Nou is die geloof egter nie net geestelik nie, maar ook fisiek en wat ons vaardighede betref.”
“Ons het teen Indië, Pakistan, al daai spanne gespeel en lesse geleer uit die ondervinding. Ons het ’n paar treë nadar aan hulle beweeg en dit het hierdie keer ons selfvertroue laat groei.”
BLINK FRYLINCK
Jan Frylinck, met ’n hoogs waardevolle 44 lopies van 28 balle, het sy nuwe rol om tot kolwer nommer vyf bevorder te word, met beide hande aangegryp.
In sy deurslaggewende kolfbeurt in ’n vennootskap van 70 lopies saam met JJ Smit (31 van net 16 balle, twee viere, twee sesse) het Frylinck hom met oortuiging ingegrawe nadat die Namibiërs die waardevolle paaltjie van David Wiese vir ’n nulletjie met die eerste bal verloor het.
Frylinck het agterna gesê: “Ek is eintlik nog sprakeloos. Wat ons vandag reggekry het, is hoër as wat ons gedink het ons kan doen. JJ het net ingekom en die druk van my afgehaal met ’n paar grenshoue. Wat die boulwerk betref, het ons bloot ons vasgestelde planne deurgevoer, ’n goeie lengte gehandhaaf en vir Sri Lanka gewag om foute te maak.”
NEDERLAND AAN WENKANT
In gister se later wedstryd in die Australiese stad Geelong het Nederland eers met die tweede laaste bal ’n naelskraapse oorwinning teen die Verenigde Arabiese Emirate behaal, nadat laasgenoemde 111/8 opgestel het.
Die Namibiërs het vandag ’n rusdag voordat hulle môre teen Nederland en Donderdag teen die Emirate te staan kom. Die Eagles is ná gister gunstig geplaas om net soos verlede jaar na die Super-12 deur te seil.
• VANDAG: Wes-Indië tn Skotland (06:00); Zimbabwe tn Ierland (10:00).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie