• Tuisblad
  • Sport
  • Drikus, JP en Vera verdedig titels op gans ander roete

Drikus, JP en Vera verdedig titels op gans ander roete

Padfietsry
Die nuwe verbypad na Rehoboth dien as die speelveld waarop die nasionale padfietstitels beslis sal word.
Tielman Van Lill
Die Namibiese nasionale resiesfietskampioenskap, geborg deur Nedbank, word Vrydag en Sondag ’n klipgooi suid van Unam by die nuwe B1-verbypad na Rehoboth beslis.

Verlede jaar het Jean-Paul Burger (50 minute 27 sekondes) vir Coetzee (50:52) met 25 sekondes vir die nasionale tydtoetstitel onttroon, voordat Coetzee twee dae later die padresiestitel met 4:02:16 teenoor Burger se 4:04:58 opgeraap het.

Coetzee was verlede jaar onstuitbaar as ’n superlangasem op sy bergfiets met verskeie gesogte titels in Suid-Afrikaanse uithourenne agter sy naam. Sy oorwinning in die Nedbank Desert Dash was sy laaste omvattende sege op tuisbodem.

Coetzee was vir vier jaar agtereenvolgens die nasionale tydtoetskampioen en in nou ook tweemalig die padfietskampioen.

Burger en Coetzee het nie hul gelyke as dit by die individuele tydtoets kom nie. Die twee ysters sal Vrydag die pap dik aanmaak om hul senioriteit te wil bevestig.

Coetzee beskik oor die uithouvermoë waarvan ’n rasegte kameel net kan droom. Selfs met die padresies se onvoorspelbaarheid ingereken, kan hy moontlik steeds as die sterkste van die land se elite ryers gereken word, hoewel die uitdaging van Burger, Hugo Hahn (steeds o.23, naaswenner in 2022) en moontlik Alex Miller nooit onderskat durf word nie.

VROUE

Vera Looser was verlede jaar opnuut pure perd en is as dubbeldoor kampioen in die tydtoets (21 km, 28:07) asook die padkampioenskap (84 km in 2:33:54) bekroon. In die padresies was sy reeds tien keer die Namibiese titelhouer.

Looser het Melissa Hinz (28:38) met 31 sekondes oorskadu, terwyl Anri Krugel derde in 28:52 was. Looser klop Courtney Liebenberg (tweede, 2:35:33) en Hinz (derde, 2:35:34) in die padkompetisie.

Looser, Hinz, Liebenberg, Krugel, Monique du Plessis en Risa Dreyer het afgelope laas gewys hulle almal is puik op peil. Die tweestryde in beide dissiplines behoort opwindende kykgenot aan fietsry-ondersteuners te verskaf – maar die gesoute Looser bly die een wat geklop moet word.

Die nuwe padroete is soos ’n vars briesie om die beste uit die jaers te haal. Wie sal in watter stadium suksesvol kan wegbreek, wie gaan jaag en wie se bene sal dit hou?

Volker Engling, die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) se koördineerder van nasionale byeenkomste, het aan Republikein gesê: “Die kompetisie tussen die voorste elite jaers sal weer straf wees. Die nuwe roete is aan die deelnemers bekendgestel, maar dit gaan nog steeds afhang wie waar die regte besluit met die padresies neem om sy of haar mededinger te uitoorlê. ’n Naelrit na die wenstreep is natuurlik ’n hoogtepunt vir toeskouers.

“Ons dink nie vinniger tye met die tydtoetse is moontlik nie, want daar is meer omdraaipunte op die roete. Ons verwag die tye sal ietwat stadiger as vorige jare wees.

“Met die padkampioenskap gaan dit nie oor spanne nie, maar opnuut oor die individu. Dit gaan oor daai Namibiese fietsrytrui en elke ryer vir homself.

“Die Namibiese span vir die Afrika-kampioenskap sal nie Sondag reeds bekend gemaak word nie. As nasionale kampioen staan ’n ryer wel ’n beter kans om die nasionale span vir die Afrika-kampioenskap (net ’n week later, in Ghana) te haal.”

INDIVIDUELE TYDTOETS

Dieselfde splinternuwe venue word Vrydag vanaf 15:00 met die individuele tydtoets vir verskeie afdelings en ouderdomsgroepe ingewy. Ryers spring een-een, sowat 60 sekondes uitmekaar, weg en jaag dieselfde roete teen die stophorlosie. Die afstande is:

Elite en o.23-mans (40 km, vier baanrondtes).

Elite en o.23-vroue (30 km, drie rondtes).

Junior mans en vroue, subveteraan mans en vroue, veteraan mans en vroue, meester mans en vroue, grootmeester mans en vroue, o.16-meisies en seuns asook o.14-seuns (20 km, twee rondtes).

O.10-, o.12- en o.14-meisies asook o.10- en o.12-seuns (10 km, een rondte).

• Sondag om 06:30 spring die elite- en o.23-mans vir die padfietsresies (134 kilometer, sewe rondtes) weg, gevolg deur die junior mans (96 km, vyf rondtes), elite- en o.23-vroue (115 km, ses rondtes) asook die junior vroue (77 km, vier rondtes) kort op hul hake.

Die afstande in die ander kategorieë vir mans: Subveterane (115 km), veterane (96 km), meesters en o.16’s (77 km), grootmeesters en o.14’s (58 km).

Die ander afstande vir vroue: Subveterane (96 km), veterane (77 km), meesters en o.16’s (58 km). Die grootmeester vroue, o.14-meisies en o.12-seuns ry 38 km; die o.10-meisies en seuns asook o.12-meisies ry 19 km.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer