Don-Ray die koning ná lang wag

Motocross
Tielman Van Lill
Die 23-jarige Don-Ray Botha van Windhoek is Saterdag ná die sewende en laaste nasionale MX-kampioenskapronde by die Gallina-baan noord van die hoofstad, as die Namibiese senior ope kampioen bekroon.

Botha vertel hy het as ’n vierjarige kannetjie begin motorfiets ry, maar eers in 2016 aan MX-kompetisies begin deelneem.

Sy vasberadenheid en liefde vir dié opwindende sportkode, het vanjaar ná vele terugslae en teleurstellings uiteindelik vrugte afgewerp.

Hy het aan Republikein gesê: “Die kampioenskaptitel beteken baie vir my. Dis iets waarvan ek van kleintyd af gedroom het. Die naaste wat ek aan dié ope kampioenskaptitel kon kom, was in 2019, maar toe val ek tydens ’n kompetisie in die Kaap en breek my regtersleutelbeen.

“Die sleutelbeen was toe met ’n operasie geheg. ’n Maand later neem ek in Windhoek deel, val en breek weer dieselfde sleutelbeen. Die 2019-seisoen was toe vir my iets van die verlede.

“Dit was vir my ’n geweldige terugslag, want gedurende 2019 het ek al my renne gewen en was die voorloper op die nasionale punteleer.

“Die 2020-seisoen was eenvoudig ’n ramp vir MX met Covid-inperkings. In elk geval kon en mag ek nie weens die twee sleutelbeenbreuke deelgeneem het nie.

“Ek het eers vanjaar weer kompeterend MX begin jaag nadat ek verlede jaar Augustus met die hulp van familie en borge ’n nuwe Honda CRF450R gekoop het. Motocross is ’n sport waar ek my alles kan gee wat tyd en oefen betref, maar die finansiële las is baie groot. Daarom is borge baie belangrik.

“Ek het vanjaar ’n briljante seisoen tot middel Mei gehad. Toe breek ek het my linkersleutelbeen terwyl ek vir Swakopmund se byeenkoms op 18 Junie oefen. Hulle het my dadelik geopereer om die herstelperiode so lank as moontlik voor die byeenkoms in Swakop te probeer maak.

“Vier weke later het ek in Swakop deelgeneem. Dit was die langste resies wat ek nóg moes jaag, maar ek kon vierde eindig. Ná dié kompetisie kon ek tot voor die vierde been in Augustus rus en het tweede geëindig.

“Ná die vierde been het ek beplan om in die Kaap te gaan oefen om met beter afrigting op te skerp, maar toe breek ek weer my linkersleutelbeen ’n week voor die vyfde kompetisie.

“Dit was die 2019-seisoen van voor af vir my. Maar met baie onderhandeling met my ma en die dokter, het ek ’n week later vir die vyfde ronde opgedaag. Ek kon met geluk en genade al sewe kampioenskaprondes jaag en voltooi!

“As ek nou terugkyk, was elke beenbreuk uiteindelik die moeite werd! Dit maak my prestasie soveel meer spesiaal vir my en het my weer laat besef dat die MX-kampioenskap ’n marathon is en nie ’n kort naelloop nie. Dis baie belangrik om konstant deur die hele seisoen te jaag.

“Ek moet besighede soos Falcon Security Group Holdings, Magrim Repairs, Creative Glass and Sandblasting, Digi Dental, Dassie Airbrushing asook Bike & Quad Clinic vir hul hulp en steun bedank.

“My opregte dank aan die Sowden-familie van Tsumeb, die Thorburn-familie, oom Hanjo Metzger en oom Marius Steenkamp, Simoney Janse van Rensburg en Izaan Viljoen vir jul geloof in my en ondersteuning.

“Ek bedank ook graag elke persoon en maatskappy wat my vanaf 2016 gehelp het – te veel name om hier te noem.

“En dan die beste vir laaste. Ma Doreen en Pa Bertus wat van kleins af by my gestaan en my ondersteun het. Hulle het my droom raakgesien en my nooit in die steek gelaat nie. Baie dankie vir alles.”

Botha het Namibië in 2017 by die Afrika-kampioenskap verteenwoordig en beplan om dit volgende jaar weer te doen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer