Dobson: 'Dis my skuld'

Rugby
Hendrik Cronjé
Die Stormers beskik oor wapens van massavernietiging. Saterdagaand het dit skouspelagtig in hul gesig ontplof.

En John Dobson sê dis hy wat die verkeerde knoppie in die beheerkamer gedruk het. Die Stormers-breier het die blaam aanvaar vir hul nederlaag met 19-14 teen die Ierse span Munster in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap in die Kaapstad-stadion.

“Die speeloppervlak was nie geskik vir ons wedstrydplan nie,” sê Dobson.

“Miskien moes ons byvoorbeeld ons lynspoed stadiger maak en nie soveel teenaanvalle loods nie. Dis egter moeilik om die wedstrydplan net vir een wedstryd te verander.”

Dobson het dit as ’n eindstryd van twee helftes beskou.

“Munster was uitstekend in die eerste helfte. Hulle het ons onder ongelooflike druk geplaas. In die tweede helfte was ons eindelik ’n paar minute weg daarvan om die eindstryd te wen. Munster het egter verdien om te wen. Hulle het onder meer twee drieë in die eerste helfte gedruk wat nie toegeken is nie.”

En nee. Dit is nie die ref se skuld nie.

“Ek het gedink die skeidsregter, Andrea Piardi van Italië, was uitstekend en bestendig,” sê Dobson.

ulle moes hul wedstrydplan aanpas. Kulkunstenaars soos Manie Libbok, Leolin Zas, Angelo Davids en Damian Willemse kon nie hul gebruiklike towerkunsies in sulke toestande uitstal nie.

“ ’n Mens het min rugby gesien, maar ek wil nie klink soos iemand wat die speeloppervlak as ’n verskoning gebruik nie.”

Dobson sê hy het sy troepe nog nooit so moeg gesien soos in die eerste helfte nie.

“Dalk was dit omdat ons soveel duikslae moes uitvoer. Ons verdediging is nog nooit so beproef soos in die eerste helfte nie.”

Munster het 60% balbesit in die eindstryd gehad, in die proses 32 verdedigers van die tuisspan geklop en slegs 106 duikslae uitgevoer teenoor die Stormers se 191.

“Munster se veggees was hoogstaande toe ons alles wat ons het gegee het in die tweede helfte.”

Al is die uitslag moeilik vir Dobson om te aanvaar, het hy agterna aan sy spelers gesê om eerder die bier ná die eindstryd te geniet en die trane vir hul kussings te bêre.

“Ek voel ons het die seisoen ’n tree vorentoe gegee met onder meer ons diepte wat verbeter het,” sê Dobson.

“Ons het al ons doelwitte die seisoen afgetik. Soos onder meer om Kaapstad gedurende die seisoen te laat glimlag.”

Dobson meen egter as die Stormers vorentoe ’n krag in die Europese Kampioenebeker wil word, sal hulle kontraktering aandag moet geniet. Hulle oorweeg juis spelers soos Warrick Gelant en selfs Trevor Nyakane.

“Ons benodig nog ’n paar spelers om op die hoogste vlak mee te ding. Die nuwe salariskerf en ekwiteitsvennoot sal daarmee help.”

Die speeloppervlak van die Kaapstad-stadion sal ook voor die volgende seisoen vervang word met 50% kunsmatige gras en 50% egte gras.

Die gladde speeloppervlak het dit ongelukkig nie ’n eindstryd gemaak om lank te onthou nie.

Al het dit nie gister in die Kaap gereën nie, was die oppervlak seepglad nadat dit vroeër die week gereën het.

Dit het die besoekers soos ’n handskoen gepas, wat byna daagliks in Limerick op ’n soortgelyke oppervlak oefen en beter daarby aangepas het. Die atmosfeer in die stadion was lank elektries, maar Munster het die tuisskare eindelik op ’n windstil aand stil gespeel met veral hul hoogstaande balbeheer en -behoud in kontaksituasies.

Die Iere het boonop vir die grootste gedeelte van die eindstryd die fisieke botsings gewen.

Munster se skakelpaar, Jack Crowley en Conor Murray, het die tuisspan ook ’n les geleer oor hoe om die spel takties op so ’n speeloppervlak te beheer.

Murray se lugskoppe het sy agterspelers die kans gegun om daarvoor mee te ding en soms te wen. Ervaring en ’n vaardigheid wat jy nie in ’n straatkafee in Seepunt kan koop nie.

Crowley en Mike Haley se taktiese skopwerk was op die aand ook beter as die tuisspan s’n. Veral in die eerste helfte. Die besoekers het selfs die lugstryd gewen. Murray, Crowley en Haley se taktiese spel was eindelik die grootste verskil tussen die spanne.

Die een voorspeler van Munster wat gereeld die Stormers by die afbreekpunte ontwrig het, is die agtsteman, Jeremy Loughman. Of sy spel altyd binne die reëls was, kan oor debatteer word. Loughman kan wel tevrede met sy bydrae as ’n verdediger en aanvaller voel.

Aan die kant van die Stormers was daar op die aand min om oor opgewonde te word. Deon Fourie se werkverrigting as verdediger was wel briljant.

Evan Roos was op sy beurt fisiek en die tuisspan se sterkste baldraer.

Agterlangs het die tuisspan se spelers grootliks min uitgerig gekry op die oppervlak.

Graham Rowntree, afrigter van Munster, was emosioneel ná sy span se oorwinning. Hy het wel tong-in-die-kies in die nuuskonferensie gesê hy smag na rooiwyn later die aand.

“Ons balbehoud was goed in die eerste helfte. Ons het die Stormers se vaste voorspelers hard laat werk,” sê Rowntree.

“Die insluiting van die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap is wonderlik. Dis ’n uitdaging.

“Die gehalte van die kompetisie het verbeter met hul insluiting.”

Rowntree was veral beïndruk met sy span se spel by die afbreekpunte. Ook met sy span se veggees en die wyse waarop hulle nooit opgegee het toe dinge taai gegaan het nie.

– Netwerk24 / Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United | Liverpool 4 vs 2 Tottenham Hotspur | Brighton 1 vs 0 Aston Villa | Chelsea 5 vs 0 West Ham LaLiga: Rayo Vallecano 0 vs 1 Almería | Sevilla 3 vs 0 Granada | Valencia 0 vs 1 Deportivo Alaves | Celta Vigo 3 vs 2 Villarreal | Osasuna 0 vs 2 Real Betis SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta | AS Roma 1 vs 1 Juventus | AC Milan 3 vs 3 Genoa | Empoli 0 vs 0 Frosinone | Hellas Verona 2 vs 1 Fiorentina | Cagliari 1 vs 1 Lecce #N/A Currency: GBP to NAD 23.19 | EUR to NAD 20 | CNY to NAD 2.58 | USD to NAD 18.62 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 133.94 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.5 | USD to KES 130.48 | USD to NGN 1382.9 | USD to ZAR 18.62 | USD to ZMW 27.25 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 76929.5 Up +0.20% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1715.92 Up +1.01% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13375.47 Up +0.10% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26429.69 Up +1.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 312.86/OZ DOWN -0.0011 | Copper US$ 4.51/lb DOWN -0.011 | Zinc US$ 2 884.30/T DOWN -2.36% | Brent Crude Oil US$ 83.26/BBP DOWN -0.0035 | Platinum US$ 968.76/OZ DOWN -0.01 #N/A