Damian da Silva by een van die GridPro-kompetisies in aksie. Foto verskaf
Damian da Silva by een van die GridPro-kompetisies in aksie. Foto verskaf

Da Silva pak Nevada vir wêreldkroon

Gholf
Tielman Van Lill
Die langdryfhou-gholfspeler, Damian da Silva, is genooi om in die VSA by Mesquite, Nevada, by die Wêreld-amateurkampioenskap die wit balletjie te moker wat van 26 September tot 1 Oktober plaasvind.

Die 23-jarige oud-WHS-leerder is tans die nommer een amateur in Suid-Afrika, asook die GridPro Suid-Afrika-amateurkampioen. Behalwe dat Da Silva ’n gholfbal so ver as 450 meter kan dryf, is hy ook ’n kranige gholfspeler.

Hy het vanjaar vier uit ses GridPro-kompetisies ingepalm en ook in Zimbabwe ’n ope-titel teen professionele spelers ingepalm. Marco das Neves en Campbell MacMillan is onderskeidelik die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese professionele langdryfhoukampioene wat ook in Mesquite in aksie sal wees.

Da Silva sê die ope-afdeling is vir beide amateur- en professionele spelers, maar hy sal net aan die amateurkampioenskap deelneem waar 32 van die wêreld se uitgesoekte bestes sal meeding.

Da Silva het aan Republikein gesê: “Ek het op 20 September vanaf Internasionale Lughawe Hosea Kutako na die VSA vertrek. Ons registrasie vind (komende Maandag) plaas, maar die amateurafdeling begin eers drie dae later.

“Sodra ek die direkte skakel vir die YouTube-uitsending kry, sal ek dit op my Facebook-blad sit. Die Windhoek Buiteklub-gholfklub sal die kampioenskap ook op hul grootskerm wys vir mense om te kyk hoe ek Namibië en Suid-Afrika verteenwoordig.

“Ek moet PD Stoman en sy span van Cfp264-prestasiesentrum bedank, wat my geweldig baie met kragwerk gehelp het. Die Buiteklub was baie geduldig met my terwyl ek geoefen het. Baie dankie aan Torga Optical, my ma, familie, vriende en ’n baie spesiale vriendin vir hul ondersteuning.

“Ek sal vir twee dae in Las Vegas oefen voor ek Mesquite toe gaan. Daar sal ek my kop reg kry en akklimatiseer vir die kampioenskap. Ek wil graag beide land trots tmaak. Dit klink dalk vergesog, maar my uitsluitlike doelwit is om in Mesquite die verste hou van die amateurs én professionele spelers te behaal.

“As ek wen, sal dit wonderlik wees. Ek gaan my beste vertoning probeer lewer. Ek verteenwoordig immers al die gholfspelers in Namibië.”

Die 32 amateurs is reeds in twee groepe van 16 gekeur. Die eerste groep sal volgende Donderdag (02:30 Namibiese tyd) hul merk maak, waarna die tweede groep Vrydag dieselfde tyd aan die beurt kom. Die volgende dag sal die finale sestiental om 19:30 (Namibiese tyd) vir die wêreldtitel opgewarm wees.

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer