Connacht kou lustelose Haaie fyn
Verenigde Rugbykampioenskap
Diegene wat gehoop het dat die Haaie in 2023 sal voortbou op hul goeie vertonings van laat verlede jaar, sou sekerlik Saterdag uiters teleurgesteld gewees het in die Durbaniete se vertoning.
Die Ierse klubspan Connacht het die Haaie Saterdagaand met 24-12 in ’n wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap in ’n koue, winderige en later reënerige Galway geklop.
Ter versagting was dit die KwaZulu-Natallers se B-span wat in aksie was, met groot kanonne soos Eben Etzebeth (slot) en Bongi Mbonambi (haker) wat tuisgebly het.
In gevalle soos hierdie, met heelwat sogenaamde tweedekeuse-spelers wat speelkans kry, is daar ’n gewilde sêding dat spelers wat gekies word ’n geleentheid het om hand op te steek. Om te wys dat hulle eintlik die beste in hul posisie is.
Jy sou Saterdagaand ver gesoek het vir Haaie-spelers wat hul hande opgesteek het. Met die uitsondering van die flank James Venter, wat gretig gelyk en ’n slag omgekeerde besit vir die Haaie verseker het, was die besoekers vir die grootste gedeelte van die wedstryd maar bedees en in hul dop gekruip.
Dinge het vroeg al skeefgeloop vir die Durbaniete, wat balbesit by meer as een geleentheid op hul ingooi in lynstane afgestaan het. Daarby het die Haaie ’n spul foute gemaak, soos Rohan Janse van Rensburg wat die bal aangeslaan het en sy sentermaat, Murray Koster, wat by geleentheid gestraf is omdat hy nie weggerol het nadat hy ’n duikslag uitgevoer het nie.
Daarby het die Durbaniete die paar keer dat hulle die bal in die eerste helfte gehad het, planloos voorgekom. Die Haaie het wel Connacht in die skrums opgedreun, maar van wanneer af maak een swaeltjie ’n somer?
Teen die tyd dat die fluitjie vir rustyd geblaas het, was die telling 19-0 in Connacht se guns, met die flank Conor Oliver, Cathal Forde (senter) en Tiernan O’Halloran (heelagter) wat in die eerste helfte vir die tuisspan gaan druk het.
In die tweede helfte het dit gelyk of die Haaie tydens die rustyd ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Hulle het met vuur en doelgerigtheid gespeel en die bal deur die hande laat gaan. Helaas vir die Haaie het Connacht se verdediging aanvanklik gehou, al het die tuisspan vir 10 minute net 14 spelers op die veld gehad omdat Shane Delahunt (haker) met ’n geel kaart afgestuur is.
Eerder as dat die Durbaniete punte kon aanteken, was dit Forde wat oorgeduik het vir sy tweede drie van die dag. Kort daarna het die Haaie uiteindelik op die telbord gekom toe Janse van Rensburg gaan druk het. In die doodsnikke het die plaasvervangerstut Dian Bleuler vir die Haaie se tweede drie oorgeduik.
Niks het die besoekers se treurmare so goed onderstreep nie soos Lionel Cronjé (plaasvervanger-losskakel) en Cameron Wright (skrumskakel) wat die bal in die tweede helfte kort ná mekaar direk by die kantlyn uitgeskop het.
Benewens die Haaie se lynstaanspel wat swak was, het die besoekers se ou kwaal, hul onvermoë om vir 80 minute voet in die hoek te sit, hul gepootjie.
• Puntemakers:
Connacht 24 (19): Drieë: Conor Oliver, Cathal Forde (2), Tiernan O’Halloran. Doelskoppe: Jack Carty (2).
Haaie 12 (0): Drieë: Rohan Janse van Rensburg, Dian Bleuler. Doelskop: Lionel Cronjé.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie