Chucky ook Curriebeker-finalis

Rugby
Net 'n klein uitgelese groepie Namibiërs het hierdie spoggeleentheid in SA rugby eerstehands beleef.
Andrew Poolman
Die Cheetahs se haker Louis van der Westhuizen kan hom môre by ’n baie uitgelese groepie aansluit – Namibiërs wat in Curriebeker-eindstryde betrokke was.

Die Vrystaters speel môre 16:00 in die Toyota-stadion in Bloemfontein teen die Airlink Pumas, wat ná 2022 se geskiedkundige triomf van plan is om ’n tweede titel in twee jaar te verower.

Die 27-jarige gebore Windhoeker (bynaam Chucky) was volgens die statistiekblad Itsrugby vanjaar net in een Cheetahs-wedstryd in die Curriebeker in die beginspan, terwyl Marnus van der Merwe meestal die 2-trui gedra het. Van der Westhuizen het nietemin elf wedstryde van die reserwebank af klaargemaak en in die proses drie drieë gedruk.

Die voormalige WHS- en Pukke-speler het verlede jaar as die Curriebeker se algehele voorste driedrukker afgesluit, met 15 wat almal as deel van die Cheetahs se rolmale afgerond was. Hierdie totaal was ook net een agter die vleuel Jan-Harm van Wyk se Vrystaat-seisoenrekord van 16 drieë in 1997.

Die Cheetahs se 35-jarige Namibiese vaskopstut Aranos Coetzee is nog buite rekening met ’n bobeenspierbesering en het eers vandeesweek ligweg na die oefenveld teruggekeer, maar bly gefokus om reg vir die komende Wêreldbeker te wees, het Netwerk24 se Johann de Jager gister uit Bloemfontein laat weet.

Coetzee sou andersins sterk in die prentjie gewees het vir ’n tweede verskyning in ’n Curriebekerfinaal.

Coetzee en Torsten van Jaarsveld (haker, nou by Bayonne) was in 2016 beide in die Cheetahs se kampioenspan (36-16) teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld.

Vir die Blou Bulle het die loskopstut Jaco Engels (nou skrumafrigter van Namibië) in die 1-trui begin in die 2006-eindstryd in Bloemfontein wat met 28-28 gelykop geëindig het. In die 2009-finaal was hy ook ’n ongebruikte speler 23.

In een van die Bulle se glorie-eras het Kees Lensing (loskopstut) twee Curriebekers op Loftus Versfeld gewen, beide kere teen die Cheetahs, naamlik in 2004 (met 42-33) en 2005 (29-25).

Nog twee Namibiese produkte vir die Vrystaat – slot Ryno Opperman en vleuel Chris Badenhorst – was in die span wat in 1994 in Bloemfontein teen Francois Pienaar se Transvaal verloor het (56-33). Drie jaar later het Opperman ook nog gespeel toe die WP die eindstryd op Nuweland met 14-12 beklink het.

Percy Montgomery, gebore Walvisbaaier en legendariese Springbok-heelagter, het in 1997, 1998, 2000 en 2001 se eindstryde gespeel en drie uit vier gewen.

Die Springbokstut Henning van Aswegen, wat op Okahandja gebore is, het in 1977, ’79, ’80, ’82, ’83 en ’85 drie uit sy ses eindstryde gewen – die eerste jaar vir die Vrystaat en die res vir die WP.

• SA Rugby se statistikus Eddie Grieb het tot die berig bygedra.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer