Chase en Brinkmann slyp vir groter drome

Triathlon
Tielman Van Lill
Die Namibiese Triathlonfederasie (NTF) het ’n propvol kompetisieprogram vir 2024.

Die NTF se eerste byeenkoms vind Sondagoggend by die Olympia-swembad in die hoofstad plaas wanneer die FNB nasionale jeug en junior triathlonkampioenskap aangebied word.

Jeugatletei (12 tot 15 jaar) en juniors (16 tot 19 jaar) sal onderskeidelik in die Supersprint- en Sprintkompetisie vir hul nasionale titels sake uitspook. Die Supersprint bestaan uit 350 meter swem, 10 kilometer fietsry en dan 2.5 km hardloop, terwyl die Sprint langer is met 750 m swem, 20 km fietsry en 5 km hardloop.

Maja Brinkmann en Nathan Chase is twee van Namibië se top junior triatlonatlete wat Sondag in aksie sal wees. Beide Brinkmann en Chase is uiters talentvolle atlete wat Namibië vanjaar in verskeie byeenkomste buite die land sal verteenwoordig.

Die NTF het gesê: “Die Namibiese Triathlonfederasie spreek graag hul dank teenoor die Janine en Suzelle Davin-sporttrust uit vir sy finansiële ondersteuning vir 2024 aan Maja Brinkmann en Nathan Chase.

“Die twee belowende Namibiese junior driekampatlete sal aan verskeie groot byeenkomste in 2024 deelneem. Dit sluit in die Afrika-bekerbyeenkomste in Suid-Afrika, Zimbabwe asook Namibië. Die twee grotes op hul almanak is die junior Afrika-kampioenskap en junior Wêreldkampioenskap wat later in die jaar plaasvind.

“Maja en Nathan, wat albei goeie resultate in nasionale en internasionale driekampkompetisies in 2023 behaal het, is ongelooflik geëerd om deur die trust ondersteun te word en hoogs gemotiveerd om hul sukses in 2024 voort te sit.”

Die Afrika-beker vind op 23 Maart in Swakopmund by die Mole plaas.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer