Bok-senter Am na Frankryk ontbied

WB-rugby
Die 29-jarige Am oefen weer ná sy herstel van 'n kniebesering.
Hendrik Cronjé
Dis amptelik: Die buitesenter Lukhanyo Am gaan die beseerde vleuel Makazole Mapimpi in die Springbokke se Wêreldbeker (WB)-groep in Frankryk vervang.

Rassie Erasmus het gister bevestig dat Mapimpi se WB-toernooi in Frankryk weens ’n gekraakte wangbeen verby is.

“Makazole sal vier tot ses weke uit wees,” sê die Bokke se direkteur van rugby.

Wêreldrugby het intussen gistermiddag onder meer op X (voorheen Twitter) bevestig dat Am op pad na Frankryk is om hom by die Springbokke aan te sluit.

Die 29-jarige Am oefen weer nadat ’n kniebesering verhinder het dat die Bokke hom in Augustus in hul WB-groep van 33 spelers kon insluit.

Am, wat met 35 toetse se ervaring spog en ’n belangrike lid van die Bokke se Wêreldbekerspan in 2019 was, het daardie besering in Augustus teen Argentinië opgedoen.

Hy is ’n leier in die Bok-groep en sal waardevolle diepte saam met Jesse Kriel en Canan Moodie op buitesenter bied.

In Am se afwesigheid was Kriel sover die Suid-Afrikaners se eerstekeuse-buitesenter in die toernooi.

Erasmus sê hy is hartseer oor die 33-jarige Mapimpi se besering wat hy in sy 41ste toets in Marseille opgedoen het. Die Bokke was met 49-18 baas oor ’n fisieke Tonga.

Die Tongaanse skrumskakel Augustine Pulu het Mapimpi met die kop teen die wang getref, maar is nie ’n kaart vir sy gevaarlike duikslag gewys nie.

“Ons sal hom (Mapimpi) as ’n fantastiese rugbyspeler mis,” sê Erasmus.

“Hy speel met groot durf. Ons sal sy eerlikheid mis. Hy is iemand wat hard oefen. Hy sê nie baie nie. Die kere wat hy wel praat, luister almal. Hy kommunikeer wel baie goed op die speelveld. Hy kla nooit as hy nie gekies word nie en is bereid om die jonges te help.”

Erasmus het ’n mooi boodskap vir Mapimpi gehad voordat die vleuel sy tasse in Toulon moes pak waar die Bokke nog tot Sondag sou tuisgaan voordat hulle na Parys vir ’n moontlike kwarteindstryd terugkeer.

“Dring ons deur na die eindstryd, sal ons hom soos die ander spelers wat beseer is daarvoor terugvlieg” sê Erasmus.

“Dis hartseer, maar dit is rugby.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer