Eddie Jones se pos as Wallabies-hoofafrigter is glo nie in die gedrang nie. Foto Getty Images
Eddie Jones se pos as Wallabies-hoofafrigter is glo nie in die gedrang nie. Foto Getty Images

Australië staan glo agter beleërde Jones

Rugby
Eddie Jones se werk as hoofafrigter van die Wallabies is steeds veilig, al het sy span sover nie waffers gevaar in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk nie.

Phil Waugh, Rugby Australië se uitvoerende hoof, het aan die Sydney Morning Herald gesê die Wallabies se gesukkel kan nie net aan Jones se afrigting toegeskryf word nie.

“Dis bitter teleurstellend. Ons het met hoë verwagtinge hierheen (Frankryk) gekom,” het Waugh gesê. “Verskeie dinge in Australiese rugby het dalk al oor ’n tydperk verswak. Ek was nog die hele tyd openlik daaroor dat ons (Rugby Australië) agter Eddie staan.

“Hy is ook teleurgesteld in die vertonings. Dis nie maklik om ’n afrigter te wees nie en ek verstaan dit.”

Waugh wou hom nie uitlaat oor bespiegeling dat Japan voelers na Jones uitgesteek het om weer dié land se breier te word nie.

“Eddie het aan my gesê hy is verbind tot sy werk. Ek gaan nie probeer uitvis wie met wie praat nie,” het Waugh gesê.

“Eddie het vir my gesê daar steek niks daarin (die bespiegeling) nie en ek glo hom.”

So, hoewel Jones se span sover vanjaar net twee van sy nege wedstryde kon wen, klink dit asof die breier dalk tot die einde van 2027 in sy pos kan aanbly.

Waugh het wel toegegee dat swak spankeuses tot die Wallabies se treurmare kon bygedra het.

“Ek dink spankeuses is altyd iets wat debatteerbaar is en dis natuurlik maklik om agterna iets daaroor te sê. Maar die vertonings in dié WB-toernooi was vir seker nie op die vlak waar dit moes wees nie,” het hy gesê.

“Die spelers is ook teleurgesteld. Ons sal die veldtog ondersoek, maar die plan is om op die koers te bly wat ons ingeslaan het.

“Dit gaan nie net daaroor om afrigters aan te stel en af te dank nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer