Alle paaie lei na Woestynfees

Skolesport
Die eerste treë vir 'n terugkeer tot normale bedrywighede vir skole in die vername spansporte word op Walvisbaai gegee.
Michelline Nawatises
Walvisbaai Privaat Hoërskool se agtste jaarlikse Woestynsportfees het gister by sy sportvelde begin met altesame 15 skole wat in vier sportkodes deelneem.

Die Woestynfees word vanjaar deur Indongo Toyota Walvisbaai geborg en duur tot Saterdag. Skole sal in boogskiet, hokkie, netbal en rugby kompeteer.

Die eerste fees is in 2014 gehou. Die geleentheid was van 2014 tot 2015 onder die bestuur van Wynand Moolman. Henjan van der Heyde het van 2016 tot 2019 oorgeneem en Henry Kemp is sedert verlede jaar tot nou aan die stuur van sake. Geen byeenkoms is in 2020 gehou nie.

Kemp, die sportdepartementshoof van WBPHS, het aan die koerant gesê: “Ons het gesien hoe die aantal deelnemers groei namate meer skole en meer ouderdomsgroepe inskryf om deel te neem.

“Met Covid-19 het skole van Suid-Afrika nie verlede jaar deelgeneem nie en ook nie nou nie. Daar is egter steeds baie belangstelling uit Suid-Afrika en Zimbabwe. Hulle beplan om volgende jaar te kom, afhangende van die wêreldwye situasie ten opsigte van Covid.

“Tydens die Woestynfees ruil afrigters idees uit en deel inligting met betrekking tot nuwe taktiek en tegnieke om spelers en spanne beter te maak. Ek is baie trots op die moeite wat afrigters, onderwysers, ouers en leerders doen om te verseker dat ’n topklas-geleentheid aangebied word.

“Dit verg baie beplanning om die fees te organiseer. Die verkryging van borgskappe, die uitnodigings aan moontlike deelnemende skole, die proses om die program vir die week insluitend die wedstrydskedule op te stel, neem baie tyd in beslag.

“Tussenin is daar reisreëlings, funksies, akkommodasie en etes, die oprigting van tente en gazebo’s vir die skeidsregters en beamptes. Die veiligheid van al die mense is van groot belang en die velde moet ook gemerk word. Die uitnodigings aan belangrike gaste en borge is deel van vele take.”

Vandag se program in die spansporte:

RUGBY, A-VELD

08:00 Walvisbaai Privaat Hoërskool B tn De Duine (o.15)

09:10 Elnatan tn WBPHS (o.13)

10:10 Pro-Ed Akademie tn WBPHS (o.15)

11:30 Dolphins tn Duinesig (o.19)

13:00 Pro-Ed Akademie tn Elnatan (o.19)

14:30 De Duine tn WHS B (o.19)

16:00 SS Swakopmund tn WBPHS B (o.19)

17:30 WBPHS A tn Tsumeb Gimnasium (o.19)

19:00 WHS A tn Moria Privaatskool (o.19)

RUGBY, B-VELD

13:00 Windhoek Gimnasium B tn WHS B (o.15)

14:10 Windhoek Gimnasium A tn WHS A (o.15)

15:20 Pro-Ed Akademie tn Elnatan (o.13)

HOKKIE

09:00 WBPHS tn WAP (seuns)

10:10 WBPHS tn Windhoek Gimnasium (meisies)

11:20 Pro-Ed tn Elnatan (meisies)

12:30 WAP tn WBPHS (meisies)

13:40 WHS tn Pro-Ed (meisies)

14:50 Elnatan tn Windhoek Gimnasium (meisies)

16:00 WBPHS tn WHS (seuns)

NETBAL

Altesame 28 wedstryde word vandag vanaf 08:00 tot 20:50 op drie bane gespeel.

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer