Die Zambezistreek se eerste vrouegoewerneur, Dorothy Kabula. Fot MICT
Die Zambezistreek se eerste vrouegoewerneur, Dorothy Kabula. Fot MICT

Zambezi-oorgrenshandel bereik N$91 miljard

Infrastruktuur onder druk namate vragvolumes toeneem
Die goewerneur van die Zambezistreek sê die skerp toename in oorgrens-bedrywighede beklemtoon die dringende behoefte om die eenstop-grenspos te finaliseer.
Phillipus Josef
Goedere deur die Katima Mulilo- en Ngoma-grenspos het die afgelope jaar rekordhoogtes bereik, met ’n totaal van N$71 miljard se invoere en uitvoere wat N$20 miljard beloop het.

Só het die eerste vrouegoewerneur van die Zambezistreek, Dorothy Kabula, vandeesweek tydens haar streekrede gesê.

In vergelyking het die handelsvolumes in die vorige finansiële jaar N$52 miljard in invoere en N$13 miljard in uitvoere beloop.

Sy het die groei aan die streek se strategiese posisie as ’n poort na verskeie Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-lande toegeskryf.

Kabula het gesê die streek trek aansienlik voordeel uit die Walvisbaai-Ndola-Lubumbashi-ontwikkelingskorridor, wat goedere van Namibië se kus na gebiede in Suider- en Sentraal-Afrika, wat deur lande omring word (landlocked), kanaliseer.

“Hierdie syfers weerspieël nie net ons geografiese voordeel nie, maar ook ons groeiende rol as ’n handelsentrum,” het die nuut aangestelde goewerneur gesê.

“Al ons grensbedrywighede het beduidende toenames in inkomste aangeteken, wat die streek se bydrae tot Namibië se ekonomie bevestig.”

Kabula het gesê dié groei beklemtoon die dringende behoefte om die ontwikkeling van die Katima Mulilo-eenstop-grenspos (OSBP) te versnel, met verwysing na voortgesette pogings om infrastruktuur te moderniseer en doeane-bottelnekke te verminder.

’n Bilaterale ooreenkoms met Zambië is vanjaar onderteken om die OSBP te vestig en ’n konsultant is aangestel om die proses te lei.

“Pogings is aan die gang om die suksesvolle implementering daarvan te verseker,” het Kabula gesê.

Sy het bygevoeg die OSBP sal na verwagting “handel verbeter, werksgeleenthede skep en tot ekonomiese ontwikkeling in die streek bydra.”



BEWARING WERP VRUGTE AF

Afgesien van handel, het Kabula ook die streek se bewaringsgedrewe ekonomiese bedrywighede uitgelig.

Vyftien bewaringsgebiede en een vereniging het gesamentlik N$30,6 miljoen in inkomste gedurende die verslagtydperk gegenereer, effens laer as verlede jaar, maar steeds ’n sterk vertoning ter ondersteuning van volhoubare ontwikkeling.

Van dié bedrag is N$2,3 miljoen direk aan plaaslike gemeenskappe as toekennings en voordele versprei, terwyl nog N$6,2 miljoen in gemeenskapsprojekte belê is wat in pas is met ontwikkelingsdoelwitte.

Kabula het bewaringsgebiede geprys vir die “bevestiging van die belangrikheid van gemeenskapsgeleide bewaringsinisiatiewe”.

Sy het verder gesê Zambezi se ekonomiese potensiaal lê nie net in sy ligging nie, maar ook in sy mense en hul vermoë om natuurlike hulpbronne te beskerm terwyl hulle ontwikkeling aandryf.

“Ons streek se unieke geografiese en ekonomiese posisie vereis dinamiese oorgrens-samewerking,” het Kabula gesê.

“Ons het die grondslag om ’n toonaangewende suksesverhaal in streekhandel en bewaring te word.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer