DIRE: Wernhill Park lost 75% of its foot traffic as a result of the Covid-19 pandemic at its height.
DIRE: Wernhill Park lost 75% of its foot traffic as a result of the Covid-19 pandemic at its height.

Winkelsentrums dra swaar aan Covid-nasleep

Minder besetting, voetverkeer
'n Nuwe parlementêre verslag skets 'n somber prentjie van die impak wat die pandemie op kleinhandeleiendomme en bedrywighede oraloor die land gehad het.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - ’n Nuwe verslag wat aan die regering voorgelê is, beskryf die moeilike finansiële situasie wat groot inkoopsentrums en winkelsentrums in Namibië ervaar in die nasleep van die Covid-19-pandemie. Die grootste verliese is toegeskryf aan die verminderde aantal kliënte en laer huurgelde.

Die bevindinge is vervat in ’n verslag deur die parlementêre staande komitee oor die ekonomie en openbare administrasie – wat gekyk het na hoe die sentrale sakedistrikte in Windhoek, Oshakati en Ongwediva en hul winkel- en inkoopsentrums geraak is as gevolg van die pandemie.

VERWOESTEND

Die verslag skets ’n somber prentjie van hoe kleinhandeleiendomme in Windhoek geraak is, die meeste weens verminderde besoekers en versoeke van huurders vir verlaagde maandelikse huurfooie.

Wernhill Park het ’n verlies van 75% in voetverkeer ervaar van sowat 1,2 miljoen kliënte tot sowat 300 000 as gevolg van die pandemie.

“Dit het ’n beduidende impak op huurders se inkomste gehad, wat dit vir hulle baie moeilik gemaak het om by te hou met hul huurgelde en betalings,” lui die verslag.

By die Grove Mall-inkoopsentrum was sowat 75% van die winkelsentrum leeg, terwyl ongeveer 200 werknemers hul werk verloor het en 100 oorgeplaas is. Voor die pandemie het die sentrum baie goed gevaar, met ’n besettingspersentasie van 95%.

Maerua Mall se leegstaanfaktor het met 6,69% toegeneem, terwyl N$50 miljoen afgeskryf moes word om die winkelsentrum se huurders by te staan, lui die verslag.

Die Black Chain-winkelsentrum se huurinkomste het met 1% gekrimp terwyl sy uitgawes met 11,6% toegeneem het sonder om inflasie in te reken, lui die verslag.

GROOT IMPAK

In die Oshanastreek is die meerderheid van die winkels in die Kuku Mall, wat in 2020 voltooi is, nooit beset nie.

“Die winkelsentrum maak voorsiening vir 40 winkels, maar slegs agt tot 10 is beset, wat neerkom op 20% [van besetting],” lui die verslag.

Die meeste winkels by Oshana Mall het leeg gestaan, met 75% van die besighede wat veronderstel was om oop te maak maar toe gebly het. Handelsbanke soos FNB en Bank Windhoek wat eiendom huur het gevra hul persele moet kleiner gemaak word om huurgeld te verlaag, terwyl Shoprite versoek het om slegs die helfte van die maandelikse huurgeld te betaal om sy begroting te haal.

Die verslag het aan die lig gebring dat die pandemie ’n enorme impak op die ekonomieë van Windhoek, Oshakati en Ongwediva gehad het, wat gelei het tot die sluiting van talle besighede, winkels en winkelsentrums in die onderskeie sentrale sakedistrikte van hierdie plaaslike owerhede.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer