Vivo se markoorheersing wek kommer

NaCC maan teen voorraadsekerheidsrisiko
Die transaksie sluit die verkoop van 52 vulstasies in wat voortspruit uit Vivo se vorige samesmelting met Engen in Namibië.
Augetto Graig

Die Namibiese kleinhandelbedryf vir bandstof wag in spanning op ’n besluit oor die reuse-transaksie tussen die grootste plaaslike brandstofverspreider Vivo Energies, wat handel dryf as Shell, en die nuwe Namibiese maatskappy, Nasan Energies.

Die transaksie sluit die verkoop van 52 vulstasies in wat voortspruit uit Vivo se vorige samesmelting met Engen in Namibië, in verband waarmee die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) voorwaardes gestel het om Vivo se oorheersing van die plaaslike brandstofmark te beperk.

Die NaCC se direkteur vir afdwinging, vrystelling en kartelle, Johannes Ashipala se voorlegging Dinsdag in Windhoek by ’n langverwagte vergadering met rolspelers het egter meer kommer gewek.

Ashipala sê voorlopige data dui dat die ooreenkoms nie Vivo se oorheersing van die plaaslike brandstofmark met 20% sal verklein, soos die NaCC wil hê nie, maar dat Vivo egter sedert die samesmelting in 2023 sy markaandeel vanaf sowat 60% tot omtrent 65% vanjaar laat groei het.

Verder, deur volumes brandstof weg van die vulstasies ter sprake te lei, sal die ooreenkoms met Nasan ook nie meer sorg vir ’n 20%-vermindering van Shell se oorheersing nie, aangesien die 52 vulstasies nou maar 10% van die markaandeel rakende volumes weerspieël, sê hy.

Ashipala sê daar is ook kommer oor die verhouding tussen Vivo en Nasan en dat die twee saam, na die ooreenkoms van krag gemaak sou word, tot 70% van Namibia se brandstofmark sou beheer.

“Dus as daar kommer oor markaandeel ná die ooreenkoms is, omdat slegs 30% vir ander meedingers sou oorbly. Daar is dus ook kommer oor voorsieningsekerheid ná die ooreenkoms.

"Ons data wys dat die nuwe onderneming maar sowat 10% van die markaandeel sal koop, omdat volumes van die vulstasies wat van die hand gesit word, herlei word. Dit is duidelik nie wat ons wou sien nie," het Ashipala gemaan.

"Die data toon ook gevaar vir werksgeleenthede, omdat minder volumes minder verkope en dus minder wins beteken, waar alternatiewe gesoek sal word, waarskynlik die vermindering van personeel,” waarsku hy verder.

Nóg ’n kommerpunt is dat Vitol, die moedermaatskappy van Vivo, reeds tussen 75% en 85% van intra-groothandelvoorraad in die land beheer.

"Dit bring ons terug by voorsieningsekerheid, omdat die algehele nasionale voorsiening baie afhanklik van een oorheersende speler in die mark sal wees. Dit dra landswye gevolge,” sê hy.

Volgens Ashipala kan iemand met daardie tipe mag selfs met die land se beleid oor brandstof inmeng.

Vivo het geen insette tot die vergadering gelewer nie.

Namens Nasan het advokaat Vanessa Kauta egter uitdruklik die beweerde eienaarskap- verhouding met Vivo ontken. Sy benadruk dat Nasan aan Millennium Falcon Investment Enterprises (70%) en Tobico Holdings (30%) behoort, wat onderskeidelik deur Miguel Hamutenya en deur Kathleen, Sean en Shiras Tobias besit word.

Die eienaars is almal voorheen benadeelde Namibiërs en hulle het geen vooraf bestaande verhouding met Vivo of Vitol nie, hou Kauta vol.

Jean-Blaise Ollomo, besturende direkteur van Nasan Energies, erken dat aansienlike volumes deur Vivo herlei word, alhoewel hy sê dit meesdal diesel is en dat petrolvolumes min of meer dieselfde bly.

Verder sê hy dat die ooreenkoms se uitkoms Nasan met 52 vulstasies sal los, Puma met 62, Shell met 72, Total met 40, Petrosol met 19 en nog 20 vulstasies tussen ander mededingers sal versprei.

Ollomo betwis ook die hoeveelheid markaandeel wat Vivo verlede jaar bereik het en sê dit was sowat 53% vir petrol en minder as 50% vir diesel.

Rolspelers teenwoordig het Dan-Boy Ndjadila en Oswaldo Mendes ingesluit, wat beide namens vulstasie-operateurs en -eienaars vir die spoedige afhandeling van die ooreenkoms gepleit het.

Leake Hangala, ook ’n vulstasie-eienaar, het bygevoeg: “Ons handelaars ly onder onsekerheid en ’n gebrek aan aandag.”

Mendes is van mening dat die Nasan-ooreenkoms nie nou gestop sal word nie, veral aangesien Nasan reeds handelsmerknaamborde reeds in Windhoek vervaardig word.

“Ons is baie opgewonde om ’n nasionale kampioen, Nasan Energies, wat met internasionale maatskappye meeding, te hê, so bly aandagtig hierop,” sê Hamutenya.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer