Skuld: Begin met ’n plan, al is dit hoe klein
Finansiële probleme los nie vanself op nie.
Namibiërs se finansiële kennis is nie noodwendig sleg nie, maar ons finansiële gedrag is egter 'n groot probleem. Francois Brand van Fin Fit Investments, 'n maatskaplike onderneming om finansiële welstand by mense en in hul huishoudings vas te lê, gee antwoorde op kwelvrae.
VRAAG: In jou ervaring, wat het gemaak dat ons is waar ons is en mense geweldig finansieel swaarkry?
ANTWOORD: Ek glo daar is nie net één rede nie – dis ’n kombinasie van verskeie faktore wat oor tyd opgebou het. Ons praat van dinge soos die droogte wat ’n groot deel van die land se inkomste geraak het, die resessie, Covid-19 wat werks- en inkomsteverlies veroorsaak het en selfs internasionale krisisse soos oorlog wat pryse opstoot. Die probleem is dat ons salarisse nie voldoende met die lewenskoste styg nie. Een van die grootste oorsake, na my mening, is dat ons as Namibiërs oor die algemeen swak finansiële geletterdheid en gedrag het. Die Finansiële Geletterdheidsindeks (FLI) se nasionale opname oor finansiële bevoegdheid het al gewys dat ons finansiële kennis nie noodwendig sleg is nie, maar ons finansiële gedrag is ’n groot probleem (FLI 2017). Ons weet wat die regte ding is om te doen, maar ons doen dit nie of sukkel daarmee.
Volgens die 2017 Finansiële Bevoegdheidsopname het net 52% ’n persoonlike begroting en selfs onder diegene wat begroot, hou nie almal daarby nie (FLI 2017). Dit verklaar waarom drie uit elke vier mense erken hulle het gereeld voor die volgende betaaldag (FLI 2017) nie meer geld oor nie. Ons het ook die sogenaamde “keeping up with the Joneses”-mentaliteit, en die “black tax”-verskynsel sit verdere druk op broodwinners. Met die werkloosheidsyfer tans op 36,9% en jeugwerkloosheid op 44,4% (NSA 2023), is daar ’n groot groep mense wat nie eens ’n inkomste het om te bestuur nie.
V: Die resessie/Covid-19 is mos verby, so hoekom ervaar ons nou eers die geweldige impak?
A: Die impak van finansiële krisisse soos die resessie en Covid-19 werk dikwels soos ’n stadige golf, dit tref nie almal op dieselfde tyd nie. Wanneer iemand byvoorbeeld ophou om ’n huislening of motorlening af te betaal, gebeur niks oornag nie. Die bank stuur eers kennisgewings, dan aanmanings, dan word jy aan ’n skuldinvorderaar oorhandig en uiteindelik draai dit in die hof vir ’n beslaglegging of uitsetting. Die prosesse duur maande, soms jare. Dis hoekom baie mense nou eers die volle impak voel. Werksverlies tydens Covid-19 het nie net die persoon geraak wat sy of haar werk verloor het nie, maar ook almal wat op daardie inkomste staatgemaak het. In Namibië ondersteun een salaris dikwels ’n hele netwerk van familie. Met werkloosheid wat ná Covid tot meer as ’n derde van die bevolking gestyg het (NSA 2023), is die finansiële druk wyer as net die oorspronklike werksverlies.
V: Finansiële druk op mans word as een van die grootste dryfvere vir selfdood onder mans in Namibië bestempel. Waarom is hierdie druk soveel swaarder op mans?
A: Ons bly ’n redelik konserwatiewe samelewing waar mans nog grootliks as die broodwinner gesien word. Hy moet vir sy gesin, sy vrou of vriendin, sy kinders en dikwels ook vir uitgebreide familie sorg. Wanneer hy dan nie kan voorsien nie, voel hy asof hy misluk het.
Statistiek wys dat meer as 80% van selfdoodgevalle in Namibië mans is (MoHSS 2023) en meestal jong en middeljarige mans. Finansiële druk, werkloosheid (NSA 2023) en oormatige skuld is herhaaldelik as risikofaktore genoem. Oormatige skuld het amper die norm geword. Namibiese huishoudings se skuld-tot-inkomste-verhouding staan op ±78% (BoN 2022), wat beteken byna viervyfdes van ’n individu se jaarlikse inkomste gaan aan skuldafbetalings. Met huur, kos en brandstof wat so duur is, bly daar min vir familieverpligtinge oor – en die emosionele las is groot.
V: Namibië het nie skuldberaders nie. Wat is die doel van so ’n persoon en watter impak het die feit dat ons land dit nie het nie?
A: ’n Skuldberader is iemand wat namens jou met jou skuldeisers binne ’n wetlike raamwerk kan onderhandel om jou skuld te herstruktureer en jou te help herstel. In Suid-Afrika maak die nasionale kredietwet hiervoor voorsiening. Sodra jy onder skuldberading is, word jy by die kredietburo’s gemerk om te verhoed dat jy nuwe skuld aangaan en jy kry ’n terugbetalingsplan wat jou teen regstappe beskerm solank jy daarby hou. In Namibië het ons nie so ’n stelsel nie. As jy hier skuld het, is jou enigste formele opsies administrasie of sekwestrasie.
Met huishoudelike skuld wat reeds meer as N$50 miljard beloop (BoN 2022) en ’n skuldlas van ±78% van inkomste, het duisende mense dringend hulp nodig wat tans nie bestaan nie. Fin Fit Investment het, in samewerking met Debt Vision, “Debt Restructure” van stapel gestuur om dié gaping in Namibië te vul.
V: Fin Fit fokus op finansiële welstand. Wat behels dit?
A: Finansiële welstand gaan oor die toestand van jou finansies en hoe dit jou lewe beïnvloed. Ons kyk na vrae soos: Bestuur jy jou dag-tot-dag-uitgawes? Betaal jy jou rekeninge betyds? Het jy ’n noodfonds? Spaar jy vir jou oudag? In die akademiese wêreld praat ons van finansiële bevoegdheid, wat drie dinge insluit: Jou finansiële kennis, jou finansiële gedrag, en jou finansiële houding.
Volgens die 2017-opname spaar 61% van Namibiërs wél geld, maar net 46% doen dit maandeliks en 88% het in die afgelope jaar niks vir hul oudag gespaar nie (FLI2017). Ons programme help mense om hierdie gaping tussen kennis, emosionele en
finansiële welstand, benadering tot finansies en gedrag te oorbrug.
V: Deel ’n voorbeeld van iemand wat danksy bogenoemde hulp “weer kon asemhaal”.
A: ’n Jong man het jare lank verkeerde finansiële besluite geneem – lenings, krediet en oortrokke rekeninge wat hy nie eens kon onthou waarvoor dit gebruik is nie. In 2022 was hy so diep in die skuld dat hy nie sy lening of meubels kon betaal nie. Hy het skuldkonsolidasie gedoen net om kop bo water te hou.
Toe hy ons program voltooi het, het hy ’n plan begin maak: Hy begroot saam met sy vrou, hy bou ’n noodfonds op en hy belê sy ekstra inkomste in klein sakegeleenthede. Hy sê self hy voel hy het weer beheer oor sy lewe.
Nog ’n persoon het ná ons skuldprogram erken hy was in ’n spiraal van skuld vasgevang, “maar nou verstaan ek hoe om my geld te bestuur. Ek voel hoopvol oor die toekoms”.
Wanneer meer as die helfte van werknemers in Namibië reeds hoë finansiële spanning ervaar, wys dit die regte ingrypings kan mense werklik help.
V: Is die werklikheid regtig so erg soos wat die syfers weerspieël?
A: In my ervaring is dit erger as wat die statistiek wys. Syfers gee net ’n deel van die prentjie. Dit wys hoeveel mense in die skuld is, of hoeveel selfdoodgevalle daar is, maar nie die stille stryd van daaglikse stres en slapelose nagte nie. Die syfers wys ook nie duisende wat daagliks aan selfdood dink of emosioneel uitgeput is nie. Ek sien ook ’n groot gaping tussen die optimisme in die finansiële sektor en die werklikheid in gemeenskappe.
Banke toon miljarde in wins, selfs tydens Covid, terwyl baie huishoudings – waarvan 62% minder as N$5 000 per maand verdien (NHIES 2016) – elke maand sukkel om te oorleef.
V: Wat is jou raad aan ’n persoon wat hom of haar tans in so ’n situasie bevind?
A: Moenie wag nie. Finansiële probleme los nie vanself op nie. Begin met ’n plan, al is dit klein. Skryf jou inkomste en uitgawes neer, soek waar jy kan sny en hou daarby. Namibiërs se skuldlas is reeds hoog op ±78% van inkomste (BoN 2022) en rentekoerse en inflasie maak dit elke maand duurder. Hoe vroeër jy beheer neem, hoe beter kan jy jou situasie stabiliseer.
As ons elkeen ons eie finansies regkry, help dit nie net onsself nie, maar ook ons gesinne, gemeenskappe en uiteindelik ons land.
– [email protected]
*Francois Brand is die voormalige bestuurder van die nasionale Finansiële Geletterdheidsinisiatief (FLI), adjunk- uitvoerende direkteur en hoof van die Openbare Verkrygingseenheid (PPU) en waarnemende uitvoerende direkteur van die ministerie van finansies, konsultant vir die Europese Unie vir openbare finansiële bestuur en openbare aankope, medestigter en eienaar van Fit Fit Investment en opgelei in die ontwikkeling van nasionale finansiële geletterdheidstrategieë en die uitvoering daarvan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie