Sandstorm oor sandmyn
’n Voorstel om ’n nuwe sandmyngebied in die Swakoprivier te vestig, het sterk teenkanting van inwoners wat langs die rivier woon, ontlok.
Sowat 170 mense het reeds amptelik beswaar aangeteken nog voordat die eerste openbare konsultasievergadering gehou is.
Die klagskrif, wat deur die Swakop River Plots Community versprei is, voer aan die voorgestelde ontwikkeling is nie op ’n geskikte ligging geleë nie, skadelik vir die omgewing en onaanvaarbaar is vir die inwoners wat in die betrokke gebied woon.
Die terrein vir die beplande sandmyn is in die Swakoprivier tussen die geskiedkundige sandmyngebied en die huidige aktiewe terrein geleë, wat deur die Swakop Sand Miners Association (SSMA) bedryf word. Die voorgestelde gebied beslaan sowat 180 hektaar en val binne Swakopmund se munisipale gebied.
Inwoners sê die ligging wek ernstige kommer oor omgewings- en beplanningskwessies omdat die gebied ook binne die Dorob Nasionale Park geleë is. Laasgenoemde is ’n beskermde bewaringsgebied wat deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bestuur word.
“Beskermde gebiede bestaan om ekologiese stelsels, habitatte van wildlewe en die natuurlike karakter van die omgewing te beskerm,” lui die klagskrif.
“Industriële sandontginning in die middel van ’n beskermde park weerspreek die doel waarvoor die park gestig is.”
Die Swakoprivier vorm ’n ekologiese korridor binne die park, wat wildlewe en plantegroei ondersteun wat deel is van die breër Namib-ekosisteem. Inwoners waarsku dat die toelating van mynbou in dié gebied ’n “baie gevaarlike presedent vir die beskerming van Namibië se nasionale parke” sal skep.
Teenstanders voer ook aan dat die voorgestelde myngebied direk binne ’n residensiële sone lê waar mense op kleinhoewes en persele langs die Swakoprivier woon.
“Dit is op my eiendom. Jy kan nie net my grond kom vat nie,” het ’n woedende inwoner Vrydag tydens ’n openbare vergadering in Swakopmund beswaar gemaak.
“Jy het my nooit eers kom vra nie,” het die inwoner gesê.
Mynboubedrywighede behels tipies swaar masjinerie, die uitgrawing van groot putte, konstante vragmotorverkeer, stof- en geraasbesoedeling – impakte wat inwoners sê onversoenbaar is met residensiële grondgebruik.
Inwoners sê die bedrywighede sal hulle blootstel aan ernstige stofbesoedeling, konstante geraas van masjinerie, skade aan toegangspaaie en ook veiligheidsrisiko’s van swaar vragmotors. Dit sal ook toegang tot eiendomme ontwrig en hul lewensgehalte beïnvloed.
“Industriële mynboubedrywighede kan nie redelikerwys binne ’n residensiële gemeenskap geplaas word nie,” lui die klagskrif.
“En wat van diegene wat betrokke is by landbouprojekte – groente en olywe verbou? Hierdie stof maak alles dood; en is selfs ’n gesondheidsrisiko vir ons mense, wat hierdie fyn mika moet inasem,” het ’n ander inwoner gesê.
Die inwoners voer verder aan dat die gebied binne die munisipale beplanningsjurisdiksie van die Swakopmundse munisipaliteit val en dat residensiële gebiede nie gesoneer is vir industriële mynboubedrywighede nie.
Volgens die beswaardes het die munisipaliteit se omgewingsdepartement glo reeds aangedui dat omgewingsklaring nie vir sandmynbou op die voorgestelde terrein toegestaan sal word nie.
Die beswaar wek ook kommer oor eiendomsregte, en voer aan dat mynboubedrywighede naby huise inwoners se regte op vreedsame genot van hul eiendom en veilige toegang tot hul huise sal belemmer.
Kommer is ook oor die kwessie van toerisme geopper. Die Swakopriviervallei vorm deel van die toerisme- en ontspanningslandskap van die Dorob Nasionale Park en word wyd gebruik vir skilderagtige ritte, natuurbesigtiging, staptogte en woestyntoere.
Inwoners voer aan dat industriële mynbou die landskap sal beskadig, die estetiese waarde van die riviervallei sal verminder en toeriste-aktiwiteite sal ondermyn.
Die voorstel vorm deel van ’n omgewingsimpakstudieproses wat tans aan die gang is. SSMA het Green Gain Consultants aangestel om die omgewingstudie uit te voer voordat aansoek gedoen word vir ’n omgewingsklaringsertifikaat.
Sandmynbou vind al dekades lank in die Swakoprivier plaas en is tans aktief op ’n terrein wat in 2015 gestig is. Volgens die vereniging is die voorgestelde nuwe terrein geïdentifiseer, nadat bestaande mynbougebiede uitgeput begin raak het.
Kommer oor die omgewing rondom die geskiedkundige mynputte het ook al hoe meer gegroei.
Die Vereniging vir Sandmyners voer aan dat sand ’n kritieke konstruksiemateriaal vir die kusdorpe Swakopmund, Walvisbaai en Hentiesbaai bly.
Een sandmyner het aan Network Media Hub (NMH) gesê dat die verskuiwing van mynboubedrywighede verder weg konstruksiekoste beduidend sal verhoog.
“As die afstand verdubbel, word elke produk wat sand gebruik in wese dubbel die prys,” het hy gesê.
“Vir jou en my is dit dalk haalbaar, maar 95% van die bevolking sal dit nie kan absorbeer nie.”
Die vereniging sê die voorgestelde nuwe terrein vorm deel van ’n “mynbou vir rehabilitasie”-benadering wat daarop gemik is om omgewingskade te herstel wat deur vroeëre sandmynboubedrywighede veroorsaak is.
Planne sluit in die verwydering van mensgemaakte putte en versperrings wat deur vorige mynboubedrywighede geskep is om die natuurlike hidrouliese vloei van die rivierstelsel te herstel. Die voorstel sluit ook die verwydering van Prosopis-indringerbome en die verbetering van grondwateraanvulling in.
Inwoners betwis egter hierdie bewerings en voer aan dat dieselfde operateurs sedert 2015 in die gebied aktief is en bevraagteken waarom omgewingskade nie vroeër gerehabiliteer is nie.
Tydens die onlangse konsultasievergadering het die spanning hoog geloop, met inwoners wat erg skepties is oor die beloftes wat in die voorstel gemaak is. Baie het selfs uitgestap en gesê dat die plan nie toegelaat sal word nie – “nooit”.
Volgens een sandmyner wat by die besprekings betrokke was, kan die situasie op ’n dooiepunt eindig, met sommige inwoners wat selfs aandui dat die kwessie in die hof betwis kan word.
“Ons benader dit nie met die bedoeling om enigiemand skade aan te doen nie,” het ’n sandmyner gesê.
“Maar die openbare mening word erger.”
Hy het erken dat die voorlopige kaart van die voorgestelde myngebied residensiële erwe en private eiendomme ingesluit het, wat die teenkanting aangevuur het.
“Dit was ’n oorskryding,” het hy gesê.
“Soms is dit makliker om oor te skiet en terug te werk as andersom.”
Die proses vir die omgewingsimpakstudie is nog in sy vroeë stadium en die finale besluit oor die projek sal uiteindelik by die regeringsowerhede berus – maar die sandmynwerkers is hoopvol dat die stof binne die volgende 12 maande – in hul guns – sal gaan lê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie