Mynminister op soek na 51%

Augetto Graig
Die adjunk- eerste minister en minister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Natangwe Ithete, wil hê die meerderheidseienaarskap van mynmaatskappye in Namibië moet in Namibiese besit wees.

Tydens sy toespraak gister by die opening van die jaarlikse mynbou-ekspo by die Windhoek-skougronde het hy beklemtoon dat die bespreking oor die eienaarskap van mynmaatskappye in Namibië te lank opsy geskuif is.

Hy sê sy ministerie is reeds in gesprek met mynbou-rolspelers in verband met ’n meganisme om Namibiese eienaarskap van 51% in nuwe mynmaatskappye te bevorder.

“Kom ons vra daardie vraag. Ons glo dat plaaslike bemagtiging nie net ’n kwessie van maatskaplike geregtigheid is nie, maar ook die hoeksteen van langtermynstabiliteit en volhoubaarheid in die sektor,” het hy gesê.

Ithete het wel die Namibiese Kamer van Mynwese geprys by vanjaar se 12de ekspo en konferensie, wat onder die tema “Mynbou vir Namibië se toekoms: Werkskepping, plaaslike bemagtiging en ekonomiese transformasie” aangebied word.

“Namibië se minerale is ’n nasionale bate. Dit is ons hoop vir maatskaplike vooruitgang en ’n beter lewensbestaan. Dit is dus ons gesamentlike verantwoordelikheid om te verseker dat die ontginning van hierdie hulpbronne tasbare voordele vir alle Namibiërs inhou,” het hy gesê.

Die president van die Kamer van Mynwese en die uitvoerende direkteur van die Navachab-goudmyn, George Botshiwe, het in sy verwelkomingstoespraak gesê die ekspo se tema vang die doelwit van plaaslike mynbou akkuraat vas.

“Dis nie net groei in produksie nie, maar inklusiewe en transformerende ontwikkeling wat alle Namibiërs bevoordeel,” het hy gesê.

Alhoewel Namibië se mynbousektor met 1,2% in 2024 gekrimp het, hoofsaaklik as gevolg van druk van kunsmatige diamante en ekonomiese uitdagings in die hoofmarkte vir Namibië se hoëgehalte-edelsteendiamante, bly mynbou steeds die hoeksteen van die land se ekonomie, voer Botshiwe aan.

Hy lig uit dat die mynbousektor verlede jaar 2 600 nuwe werksgeleenthede geskep het, 13,3% tot die land se bruto binnelandse produksie (BBP) bygedra het, N$23,94 miljard op plaaslike verkryging bestee het, en sedert 2019 altesaam N$31,463 miljard tot die staatskas bygedra het deur tantieme, inkomstebelasting, uitvoerheffings en dividende.

Carlo McLeod, spesiale adviseur en adjunkdirekteur van die Upstream Petroleum-eenheid in die president se kantoor, het namens president Netumbo Nandi-Ndaitwah haar toespraak gelewer.

Daarin noem die president dat mynbou verlede jaar N$52,3 miljard in inkomste gegenereer het, N$5,62 miljard tot die staatskas bygedra het, en ’n totaal van 20 843 direkte werksgeleenthede gehandhaaf het, 14,6% meer as in 2023.

Nandi-Ndaitwah beklemtoon die groei in goud- en uraanproduksie en doen ’n beroep op die spoedige voltooiing van die hersiening van die wet op minerale, waaraan Ithete ook gesê het sy ministerie werk.

“Hierdie kritieke stuk wetgewing sal Namibië se mynbouraamwerk moderniseer en dit meer deursigtig, voorspelbaar en geskik vir die doel maak,” volgens die president.

Verder sê sy die dringende vraag bestaan steeds: “Hoe kan Namibiërs betekenisvol voordeel trek uit die groeiende geleenthede in die mynbousektor?”

Nandi-Ndaitwah het verwys na die databasis vir mynbougoedere en -dienste wat verlede jaar by die ekspo bekend gestel is om entrepreneurs te help om geleenthede te identifiseer.

“Ek doen ’n beroep op alle Namibiërs om dit ten volle te benut,” sê Nandi-Ndaitwah.

Verlede jaar het die mynbousektor in Namibië reeds N$23,94 miljard aan plaaslike verkryging bestee, ongeveer 46,2% van die bedryf se totale inkomste en 62% van totale verkryging.

Toegang tot die ekspo, wat vanjaar 198 uitstallers by 335 stalletjies huisves, en benewens plaaslike mynbouers, 21 maatskappye van Suider-Afrika en vier van oorsee gelok het, is gratis en duur tot Donderdag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer