Meer as 21,3 miljoen liter drank in een maand geproduseer
Namibië se twee brouerye het in Augustus 2026 21,3 miljoen liter alkoholiese drank geproduseer.
Dit is die hoogste maandelikse produksie-indeks wat in die eerste agt maande van die jaar aangeteken is – met 'n uitset wat byna 47% hoër was as die laagtepunt in Maart, namate produksie voortgegaan het om te herstel.
Die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se Augustus-sektorverslag oor die drankbedryf toon dat die produksie van alkoholiese drank 212 708 hektoliter bereik het, wat ’n toename van 17,1% teenoor Julie se 181 646 hektoliter verteenwoordig en ’n styging van 13,6% in vergelyking met Augustus 2025.
In terme van volume het die brouerye in Augustus ongeveer 3,1 miljoen liter meer alkoholiese drank vervaardig as in Julie.
Die produksie-indeks vir Augustus het op 126 miljoen liter gestaan, opwaarts van 107,6 miljoen liter in Julie en 117,9 in Januarie. Dit was ook 46,9% hoër as die Maart-indeks van 85,8 miljoen liter, die laagste wat gedurende die tydperk van agt maande aangeteken is.
Produksie het deur die jaar gewissel, met die indeks wat van 117,9 miljoen liter in Januarie tot 100,4 miljoen liter in Februarie en 85,8 miljoen liter in Maart gedaal het. Daarna het dit herstel tot 102,7 miljoen liter in April, tot 91,3 in Mei teruggesak en tot 100,8 miljoen liter in Junie en 107,6 miljoen liter in Julie gestyg voordat dit in Augustus 126,0 miljoen liter bereik het.
Die syfers dek alkoholiese drank wat deur Namibia Breweries (NBL) en ABInBev Namibia vervaardig word, wat die voormalige SAB Miller-brouery by Okahandja bedryf.
Die produksietoename kom teen die agtergrond van relatief hoë alkoholverbruik in Namibië.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is Namibië se totale alkoholverbruik in 2022 geraam op 12 liter suiwer alkohol per persoon van 15 jaar en ouer per jaar, vergeleke met die gemiddeld in Afrika van 3,5 liter en die wêreldgemiddeld van vyf liter.
BIER DOMINEER
Alkoholiese drank het in Augustus ongeveer 65,3% van Namibië se totale drankproduksie uitgemaak, met nie-alkoholiese drank wat die oorblywende 34,7% bygedra het.
Die produksie van alkoholiese drank het 212 708 hektoliter aangeteken, terwyl dié van nie-alkoholiese drank 113 086 hektoliter beloop het, gelykstaande aan ongeveer 11,3 miljoen liter.
Dit is in skille kontras met die koeldrankbedryf wat in Augustus ’n jaar-op-jaar daling van 31,9% aangeteken het, ondanks ’n herstel van 47,3% vanaf Julie.
Algehele drankproduksie het maand-op-maand met 26,1% tot 325 794 hektoliter toegeneem, vergeleke met 258 415 hektoliter in Julie. Totale produksie het egter 7,8% onder die 353 386 hektoliter gebly wat in Augustus 2025 aangeteken is.
UITVOERE GROEI
Namibië het in Augustus 55 100 hektoliter drank uitgevoer, meer as dubbel die 26 019 hektoliter wat gedurende dieselfde maand verlede jaar aangeteken is, wat ’n toename van ongeveer 112% verteenwoordig.
Alkoholiese drank het 54 863 hektoliter van daardie uitvoere uitgemaak, met 87,2% daarvan bier, gelykstaande aan 47 867 hektoliter.
Suid-Afrika het Namibië se grootste uitvoerbestemming vir drank gebly en 75,3% van totale uitvoere uitgemaak, gevolg deur Tanzanië met 9,9% en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) met 9,3%.
Aan die invoerkant het Namibië gedurende Augustus 163 990 hektoliter drank ingevoer, ’n toename van 35,6% teenoor die 120 935 hektoliter wat in Augustus 2025 aangeteken is.
Suid-Afrika het 91,6% van ingevoerde drankvolumes verskaf, gevolg deur Zambië met 4,2%, Duitsland met 1,1% en Pole met 0,7%.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie