MV Grand Banks is te koop. Foto Debmarine Namibia
MV Grand Banks is te koop. Foto Debmarine Namibia

Boorskip te koop

Plaaslike werk in diepsee lyk belowend
Debmarine verminder sy vloot van 7 tot 5 en beëindig Coral Sea se huurkontrak.
Augetto Graig
Debmarine Namibia se boorskip, MV Grand Banks, is tans te koop en belanghebbers het tot Vrydag 11 Julie om 12:00 om belangstelling te toon.

“Die boorskip is een van die oudstes in ons vloot en was geskeduleer om in 2028 uit diens gestel te word. Na geskeduleerde instandhouding en in reaksie op die afname in die wêreldwye vraag na natuurlike diamante, het ons egter besluit om haar vroeër as beplan uit diens te stel,” het Anna Ikela, senior kommunikasiebeampte vir Debmarine, op navraag uitgebrei.

Volgens haar het laer diamantpryse en markaanvraag tot ’n doelbewuste vertraging in produksie gelei, wat nie net ’n impak op Debmarine Namibia se finansiële prestasie het nie, maar ook op die globale natuurlike diamantbedryf.

“Gegewe hierdie agtergrond is die herwinning van bykomende karaat te midde van beperkte markaanvraag tans nie kommersieel lewensvatbaar nie,” sê sy.

Intussen hoop werk op vir boortuie in ander ontginningsbedrywe in Namibiese waters, met olieboorgeleenthede wat op die horison wink.

Een voorbeeld is die suksesvolle geleentheid wat die Deepsea Mira geneem het, toe eienaars Northern Ocean en bestuurders Odfjell Drilling met TotalEnergies onderhandel het om aan die einde van hul boorveldtog in Walvisbaai vir bykomende plaaslike boorwerk te wag.

Verlede maand is aangekondig die Mira sal die Volans-1X-eksplorasieboorgat vir Rhino Resources boor en dat die boorwerk na verwagting teen 1 Augustus sal begin.

TotalEnergies het reeds aansoek gedoen vir omgewingsklaring vir die verdere ontwikkeling van die Venus-olieveld in Blok 2913B in diep waters van tot 3 000 m, ongeveer 300 km van Oranjemund af.

Die oliereus berei voor vir ’n finale beleggingsbesluit in verband met ’n veldtog van 40 boorgate om Venus te ontwikkel. Terselfdertyd het BW Kudu ook vir omgewingsklaring aansoek gedoen om die nabygeleë en massiewe Kudu-gasveld te ontwikkel, met twee boorgate wat voor die einde van 2025 beplan word, en nog twee in 2026.

Verskeie ander olie-eksplorasieveldtogte lyk waarskynlik in die komende maande en jare, en met reiskoste na boorteikens wat tipies in boorkontrakte ingesluit word, kan ’n plaaslik gebaseerde boortuig dalk winsgewend besig bly.

MV Grand Banks is wel toegerus om vir diamante te boor, maar sy is aanvanklik in 1972 by die Levingston Shipyard Orange in Texas, VSA, as ’n olieboortuig gebou en is eers in 1992 in ’n diamantherwinningsvaartuig omskep.

Met ’n lengte van byna 122 meter en ’n tonnemaat van 6 168 ton, het dié vaartuig herhaaldelik sy bevoegdheid bewys. Die skip is volledig toegerus met drinkwatermasjiene, met voldoende kragopwekking vir aandrywing, vasmeer- en mynbouaktiwiteite, en spog met van tot 36 offisiere en 44 bemanningslede, volgens Debmarine se advertensie van 6 Junie.

Die advertensie vereis dat bieërs by die aanlyn platform Asite Marketplace registreer om hul belangstelling te registreer.

MV Grand Banks is een van sewe skepe in die Debmarine-vloot, saam met MV Debmar Atlantic, MV Debmar Pacific, MV !Gariep, MV Mafuta en MV Benguela Gem, die mees tegnologies gevorderde diamantherwinningsvaartuig ter wêreld.

Debmarine gebruik ook die gehuurde MV Coral Sea, hoewel die plaaslike mynboupublikasie Mining & Energy reeds in April vir Debmarine se uitvoerende hoof, Willy Mertens, aangehaal dat die kennisgewing om dié huukontrak te beëindig reeds ingedien is.

“Dit sal die diamantherwinningsvloot van sewe tot vyf verminder,” het Mertens toe gesê.

Hy het ook gesê Debmarine sal alle moontlike stappe doen om werkverliese te verminder.

Ikela het verlede week gesê: “Ondanks die huidige uitdagings bly Debmarine Namibia steeds daartoe verbind om ons leierskapposisie in die Namibiese makro-ekonomiese landskap te herwin.

“Nadat ons die afgelope vyf jaar meer as N$15 miljard tot die Namibiese fiskus bygedra het, sal ons voortgaan om alle moontlikhede te ondersoek om die volle waarde van elke karaat te ontsluit, om Namibië se ontwikkelingsdoelwitte te ondersteun,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer