• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Wêreldhof se uitspraak oor SWA in oënskou ná 60 jaar (Deel 1)

Wêreldhof se uitspraak oor SWA in oënskou ná 60 jaar (Deel 1)

Lesersbrief
Dr. Riaan Eksteen

DR. RIAAN EKSTEEN (Ph.D.) SKRYF:

Sestig jaar gelede was dit my voorreg om saam met Pik Botha en Suid-Afrika (SA) se twee senior advokate, David de Villiers en Buddie Muller, ’n lid van SA se regspan by die Wêreldhof in Den Haag te wees. 

Op 18 Julie 1966 het die Internasionale Geregshof in Den Haag uitspraak gelewer oor die jare lange saak wat Ethiopië en Liberië teen SA gevoer het oor SA se hantering van die mandaat ten opsigte van Suidwes-Afrika. (Die benaming SWA word gebruik omdat die naamsverandering na Namibië eers later internasionaal erken is.) 

Toe die uitspraak daardie middag gelewer is, het die voorsittende beampte, regter Percy Spender van Australië, die beslissende stem uitgebring. Daarmee is die aansoekers se betoog verwerp.

In vele opsigte was dit ’n belangrike gebeurtenis vir die Afrika-groep by die VN namens wie die aansoekers die saak gedryf het – vir Suid-Afrika se buitelandse beleid en internasionale verhoudinge, vir SWA, en vir Swapo. 

Die regsaspek rakende die mandaat het tot ’n einde gekom, wat Suid-Afrika voorsien het die geval sou wees. Wat daarna gebeur het, was nie SWA óf SA op voorbereid nie. 

Op 26 Augustus 1966 val die gewapende vleuel van Swapo Omugulugwombashe in Ovamboland in teen SA se polisieteenwoordigheid. Hierdie gebeurtenis op 26 Augustus word jaarliks sedert Namibië se onafhanklikheid op 21 Maart 1990 herdenk en is ’n openbare vakansiedag. 

Met hierdie aanval het 23 jaar van Suid-Afrika se militere betrokkenheid in die land begin; aanvanklik in Ovamboland, maar later in die suide van Angola en ook ander dele van Angola.

Met die aanvang van die sitting van die VN se Algemene Vergadering in September 1966 was dit die Afrika-state se doelwit om die hofuitspraak ’n belangrike besprekingspunt te maak om sodoende die mandaat ongeldig te laat verklaar. 

Die Algemene Vergadering het dan ook op 27 Oktober 1966 die mandaat herroep. Hiervolgens is SA se teenwoordigheid enersyds onwettig verklaar en andersyds het die eis vir SA se algehele onttrekking uit SWA momentum gekry.

Hierdie besluit het die geskil oor SWA wêreldwyd op die voorgrond geplaas en ’n nuwe era met betrekking tot internasionale konflik oor SWA ingelui. 

Van daardie dag af het dit ’n belangrike punt geword in SA se buitelandse beleid. Die hantering van hierdie aspek is op ’n baie groter internasionale skaal geplaas, wat oor jare heen gestrek het en uiteindelik uitgeloop het op die aanvaarding van resolusie 435, en die implementering daarvan nadat die VSA se Chester Crocker ingegryp het. Namibië het in 1989 ’n verkiesing gehou en in Maart 1990 onafhanklik geword.

Ná die uitspraak het die destydse eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, wat met vakansie by sy strandhuis op Bettiesbaai was en laat die middag na die SAUK se Seepunt-ateljees moes ry om ’n boodskap oor die uitspraak te lewer, onder andere gesê SA sal hom nie laat voorsê deur sy teenstanders nie. 

Hy het hiermee nie net na die VN en die hofsaak verwys nie, maar ook na ander lande, met inbegrip van die VSA, wat SA vooraf gewaarsku het en met optrede in die Veiligheidsraad gedreig het indien SA nie gehoor aan die uitspraak sou gee nie – self het hulle nie gehoor aan die uitspraak gegee nie. 

Dit was die laaste keer wat dr. Verwoerd se stem oor die SAUK gehoor is voordat hy op 6 September in die Volksraad vermoor is. Sy opvolger, John Vorster, is onmiddellik met hierdie problematiek in SA se buitelandse verhoudinge gekonfronteer.

Hy het dadelik besef dat hierdie aangeleentheid indringende aandag verg. Sy opdrag was dat daar reeds vroeg in 1967 ’n publikasie oor SWA moes verskyn waarin alle politieke en sosioëkonomiese aspekte van die land aan die buitewêreld gekommunikeer moes word. 

Vir drie weke aan die begin van daardie jaar het ek saam met Pik Botha en dr. Eric Leistner, van die Afrika-Instituut, deur SWA gereis om inligting oor SWA saam met personeel van die Administrasie in te samel. In Mei is die “SWA Survey 1967” gepubliseer. 

’n Opvolguitgawe het later in 1974 verskyn nadat ons drie weer SWA deurkruis het. SWA het ook al hoe meer Vorster se aandag geëis. Eerstens het hy die waarde van diplomasie ingesien om die SWA-kwessie te hanteer en het ook die toenemende belangrikheid van die kwessie vir SA se buitelandse beleid besef – met ander woorde, nie net om meer aandag te vestig op die interne politiek van SWA en politieke partye daar nie, maar ook om die wêreld meer vertroud te maak met die internasionale dinamika van die kwessie. 

Vorster het besef hy sal nie vordering kan maak met sy eie détente-beleid indien die kwessie nie met diplomasie hanteer word nie. Tydens sy vergadering met Afrika-leiers was SWA een van die knelpunte. So ook tydens sy drie ontmoetings tussen 1974 en 1976 met dr. Henry Kissinger, wat toe die VSA se Staatsekretaris was. – Vervolg


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer