Woorde: Die skrik van rondom!
René Hugo – Die wetenskaplike definisie van ’n idioom is: ’n Uitdrukking waarvan die figuurlike betekenis verskil van die letterlike betekenis van die woorde in die sin. Dit lyk vir my asof alledaagse woorde ook soms onverwagse betekenisse – en emosies – by mense ontlok.
Sus Marie sê onlangs vir my dat sy trots is op die Afrikaanse taal, maar dat daar ’n paar woorde is wat haar angstig maak. Die belangrikste hiervan is as haar ou man sê: “Kom ry gou saam. . . ”
Sy verduidelik só: “Dis nie dat ek nie wil saamry nie. Ek hou daarvan om dinge saam te doen. Maar ek benodig meer as vyf sekondes voordat ek in die kar kan inval – veral as ek my “vloerwasklere” aan het, of as ek so pas ’n pan beskuit in die oond gesit het. En dan moet jy ook weet dat die GOU van daardie sin nooit gou is nie. Want my ou man hou van ry en plekke besoek. So jy sien ‘kom ry gou saam’ gee my ’n pyn op my maag.”
Ná hierdie gesprek let ek toe meer op na wat mense sê. En ek kom agter dat daar vir meeste mense ’n persoonlike sinsnede is wat nie presies by die algemene betekenis van die woorde pas nie – en wat persoonlike emosies ontlok.
’n Goeie voorbeeld hiervan is Swaer Hendri wat woedend word vir karwagte wat op hom afstorm met: “Sal mooi na jou kar kyk, Meneer!” Hy het geen beswaar teen karwagte en hul taak nie, maar hy wéét dat, sodra hy die winkel instap, hulle van sy kar sal vergeet en voortgaan om sokker te speel in die onderste hoek van die parkeerarea. En met sy terugkoms sal hulle beweer: “Het mooi na jou kar gekyk, Meneer.” Soos Swaer Hendri sê: “So ’n ou xxyyzz liegbek!!”
Manlief het dit weer teen mense wat hy glad nie ken nie, of miskien vaagweg onthou, wat hom raakloop (of, op WhatsApp kontak) en groet met: “My ou Maat!” Wat vir hom nog erger is, is dat hierdie aanspreekvorm veral by juviale vreemdelinge voorkom. Manlief se reaksie hierop – met verhoogde bloeddruk en suising in die ore – is gewoonlik: “Goeie dag, het ons al voorheen ontmoet?”
Ekself het ook só ’n sinsnede wat my ore laat sing en my maag laat rondspring van angs. Hierdie woorde is huis-gekoppel en begin met die onskuldige vraag: “Waar is. . . .?” Die rede vir my aweregse en emosionele respons op so ’n maklike vraag is veelvuldig. Meestal sal ek nie weet waar die gevraagde item is nie omdat:
a) ek in my gespannendheid nie weet hoe die ding lyk nie
b) ek nie kan onthou of ek dit ooit hanteer het nie c) ek glo dat ek in my onnoselheid die ding só veilig gebêre het dat dit in der ewigheid nooit weer te voorskyn sal kom nie.
Die onmiddellike gevolge van die vraag is dat my hande begin sweet, ’n knop op my maag ontwikkel, en enige rasionele geheuefunksies heeltemal in sy peetjie gaan. Dan gaan ek oor tot die aanval: “Dit is nie my werk om te weet waar goed gebêre word nie!” En so lei dié vraag na twee stilstuipes in die huis!
Hierdie probleem het my al dikwels tot diep denke gelei. So het ek gesien dat daar in baie kantore/besighede die neiging is dat mansbestuurders aan vrouekollegas sal vra: “Waar is daardie xyz nou weer?” Uiteindelik het ek tot insig gekom: MOEDERS is die waarskynlike oorsaak van die “waar is”-debakel!
Hulle leer nooit hul seuns om na iets te gaan soek (rugbykouse, geskiedenisboeke, swemhanddoeke, skooltasse) nie. Dis makliker om dit self te vind. Dieselfde moeders leer dan ook vir hul dogters om skuldig te voel as hulle nie weet waar dinge gebêre is, of in donker hoekies wegkruip nie.
So kom ek uiteindelik tot die insig dat die woorde “waar is” vêrreikende waarde het. As Adam tog maar net vir Eva gevra het “waar is die appel nou weer. . .?” – het die eerste sonde miskien nooit plaasgevind nie?!!
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie