Gerine SMN
Gerine SMN

Wie sou kon doen met ’n miljard?

Gerine Hoff
So, Elon Musk het Twitter vir U$44 miljard gekoop. Kleingeld vir die rykste man op aarde, wat volgens Forbes ’n netto waarde van U$273,6 miljard het.

Ek dink die geld in sy bankrekening is genoeg om ’n klein land aan die gang te hou.

Maar wat kan jy met ’n miljard doen? Sou jy ’n miljard dollar hê (hetsy Namibies of Amerikaans) en jy bestee dit teen ’n tempo van $1 000 per dag, sal dit jou om en by 2 740 jaar neem voordat jou geld opraak. Dis gelyk aan $5 000 per dag vir meer as 500 jaar, of $100 000 elke dag vir 25 jaar.

En dis net een miljard. Stel jouself voor hoeveel kan jy met 270 duisend daarvan maak.

As jy wonder of ’n miljard dollar baie geld is (dit is, natuurlik) dink só daaraan: Die verskil tussen $1 miljoen en $1 miljard is so groot soos die verskil tussen $0 en $999 miljoen.

As jy dalk wonder hoeveel dit weeg; ’n miljard dollar in $100-note van 1 gram elk sal 10 ton weeg.

Met ’n miljard sal daardie klein persoonlike luukshede nie eens ’n hap in jou begroting maak nie.

Jy kan byvoorbeeld ’n “bespoke” Savile Row-uitrusting kan koop wat jy met jou volgende reis na Londen kan gaan optel, vir ’n winskopie van N$75 000.

Of dalk kan jy vir jouself ’n Roger Smith-horlosie bestel. Dit vat net ses maande om te maak, en is dus ’n “bargain” vir net onder N$2 miljoen. Of dan eerder ’n stel nommerpas Bontoni-krokodilleerskoene teen N$255 000. Dis immers Italiaans.

As goeie wyn jou ding is, sal ses bottels Petrus 1945 jou U$42 000, of U$7 000 per bottel (of U$1 000 per glas – maar wie gaan dit só drink?) uit die sak jaag.

Hou jy van tennis? U$13 000 per jaar sal vir jou twee sitplekke by Wimbledon besorg.

Maar regtig – hierdie syfers is kleingeld, want dis skaars ’n maand se rente op ’n miljard dollar in die bank.

Kom ons dink groter: ’n Gulfstream G500 sal jou U$44 miljoen kos nog voor jy op die aanloopbaan is. Of jy kan U$200 miljoen op ’n seiljag blaas (die Griekse eilande wag mos vir niemand nie, my darling). Hehe, blykbaar is hierdie soort “belegging” ook die vinnigste manier om van geld ontslae te raak.

As ’n spoggerige motor eerder jou bloed aan die pomp kry, het ’n 1963 Ferrari GTO in 2018 vir U$70 miljoen verkoop in wat kenners glo die hoogste prys nóg vir ’n motor was. Net 36 van dié model is ooit gemaak, maar met ’n miljard kan jy ’n paar in jou motorhuis bekostig.

Oorweeg jy dalk ’n tweede huis? In Bel-Air is daar een op die mark vir U$188 miljoen. . . Maar onthou die eiendomsbelasting sal jou U$200 000 per maand kos.

As jy ’n kunsliefhebber is, was een van Monet se Water lilies-skilderye onlangs teen U$50 miljoen te koop. Maar dis kleingeld, want die duurste skildery wat ooit op ’n veiling verkoop is, was Leonardo da Vinci se Salvator Mundi, wat in November 2017 vir U$450,3 miljoen verkoop het – tog nog steeds ’n druppel in die emmer van jou U$1 miljard bankrekening.

So, dalk kan jy maar oorweeg om ook ’n Picasso (teen U$179 miljoen) aan te skaf?

So, wat sou jý met ’n miljoen – ekskuus, miljard – doen? – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer