Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

Wie is jou ‘tribe’?

Sê maar net
Marlise Izaaks

Nie almal wat jou naam ken, ken jou hart nie.

Toe ons jonger was, het jy meer tyd vir baie vriende gehad. Noudat jy ouer is en meer ervaring opgedoen het, kan jy jou vertrouelinge op een hand, soms twee, tel. 

En daar kom ’n tyd in die lewe wanneer jy nie meer die vriende op jou kontaklys tel nie, maar jy begin aandag skenk aan wie jy werklik kan vertrou. Een ding is verseker; nie almal wat toegang tot jou lewe het, hoort in jou binnekring nie. 

Jou binnekring is nie noodwendig jou oudste vriende, dié wat jou die langste ken, nie. Dis eerder dié wat jou deur en deur ken. Die handjievol mense by wie jy die las van voorgee kan neerlê. Diegene wat jy kan bel wanneer die lewe nie sin maak nie. Jou vertrouelinge wie toegang tot jou hart verdien het.

My binnekring het aanmoedigers, diegene wat my herinner wie ek is wanneer ek vergeet. Daar is die waarheidspreker, wat my so lief het dat sy my nie net heuning om die mond smeer en my vertel wat ek wil hoor nie. My veilige plek, die vriendin vir wie ek nie hoef voor te gee of myself te verduidelik nie. Diegene wat my lewe saam met my vier, ek bedoel werklik vier, en nie vergelyk nie. 

Ek het ook die beskermer, wat altyd langs my is wanneer dit moeilik raak. En almal kan doen met die een wat jou uitdaag en help groei. Dan is daar die seisoensvriende, wat vir sekere hoofstukke belangrike rolle gespeel het, maar nie noodwendig saam met jou die volgende seisoen instap nie.

Daar is ook die een wat in stilte saam met jou sit en jou hart verstaan. Wat nie net van jou sukses en oorwinning wil hoor nie, maar bereid is om met jou in die dale te sit. Sy of hy wat jou swakhede ken, sonder om dit uit te buit. Wat jou drome ken, sonder om jou dom te laat voel omdat jy sulke drome het. Daardie juweel-vriendin, of vriend, wat weet hoe om jou kwesbaarheid met sorg te hanteer. 

Soos ons ouer word, verstaan ons nie almal is veronderstel om dieselfde vlak toegang tot ons lewens te hê nie. Jou binnekring sal nie van jou vereis om jouself kleiner te maak nie. Hulle sal jou nie aan jou waarde laat twyfel nie en jou voortdurend laat wonder waar jy met hulle staan nie. 

Jou binnekring moet ruimte skep vir jou om te groei, want dis die mense wat help om jou verhaal te vorm. Hulle wie nie noodwendig jou geskiedenis ken nie, maar wie jou toekoms herken.

Met jou binnekring kan jy eenvoudig net wees. Hulle verstaan, want almal se prioriteite verander. Hulle het nie nodig dat jy dieselfde persoon hoef te bly nie. Hulle sien jy groei en sê: “Ons is trots op jou.” 

Jou binnekring moet jou nuwe begin, jou moed en drome, jou genesing en jou volgende hoofstuk saam kan vier. En wat nog meer is, wie vir jou sorg in gebed. Soms is jou “tribe” nie diegene wat saam met jou om die tafel sit nie, maar diegene wat in stilte jou naam voor God noem.

So wie is jou “tribe”? Wie bel jy wanneer jou hart swaar is, wie vier jou as persoon, wie vertel die waarheid in liefde, wie beskerm jou selfvertroue, wie sit met jou in stilte, wie herinner jou van jou waarde, wie daag jou uit om beter te wees en wie bid vir jou? Hulle is die binnekring wat toegang tot jou hart verdien.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer