No Image Caption

Wie gaan die eerste wees om te verander?

Iréne-Mari van der Walt
Vanjaar het vir my bitter seer begin toe ’n pel sy eie lewe geneem het.

Ek het gewens dat niemand ooit daardie seer moet ervaar nie, maar 2025 het ander planne gehad. Talle mans het hierdie jaar al dieselfde paadjie geloop en, as iemand wat myself verskeie kere al van daardie punt moes red, is dit nie net vir my hartseer dat gesinne sonder pa’s en eggenote gelaat is nie, maar dit breek my hart omdat ek weet wat ’n desperate poging selfdood is.

Ons almal was al onder druk, maar ons het nie ons eie lewens geneem nie. Ons almal was al hartseer en mismoedig, maar hier staan ons nog.

Slegte dinge het al met ons almal gebeur, maar tog sit ons steeds een voetjie voor die ander. Selfdood is nie ’n maklike besluit nie, en gewoonlik ook nie ’n haastige een nie, maar wat dryf iemand tot daardie besluit? Uit persoonlike ervaring kan ek sê dit is wanhoop.

Dit is wanneer alles om jou donker lyk, alles swaar is, alles seermaak, alles te veel is en dit voel asof jou borskas vasgedruk word deur die gewig van jou eie bestaan. Jy lag en jy besef jy weet nie eintlik hoekom nie. Jy eet en jy besef jy proe eintlik niks nie. Jy het nie krag om regop te staan wanneer jy stort nie.

Jy het nie die moed om doodgewone huistakies af te handel nie. Jy slaap want dan verdwyn jy – dan voel jy nie meer of die lewe jou versmoor nie en jy hoef nie jou lyf rond te sleep wat soos ’n sak klippe voel nie. Jy voel terselfdertyd alles en niks. Die vreugde wat jy voel wanneer die son se strale jou wange saggies streel, herinner jou eintlik net dat jy jare laas werklik gelukkig was.

Meeste mense word nie een oggend wakker en besluit om hul eie lewens te neem nie – depressie kruip vir jare nader en nader sonder dat jy dit besef.

Die onheilspellende skrif hang ook jare reeds aan die muur rakende die geestesgesondheidskrisis onder mans. Mans wat hul vroue slaan, mans wat hul meisies wreed vermoor, mans wat hul kinders leed aandoen of doodmaak, mans wat sonder enige klaarblyklike rede vreemdelinge in kroeë en sjebiens vermoor – dit alles sê vir ons iets wat ons al jare lank nie wil hoor nie.

Hoe nou gemaak as ons na jare skielik wil luister? Waar begin ons? Vra ons dieselfde mans wat hul hele lewe lank moes hoor dat hulle nie emosie mag toon nie, om daaroor te praat?

Waar kan hulle gaan praat? By hul vriende wat ook onder die indruk is dat hulle minder van ’n man is omdat hulle oor hul gevoelens praat? Hoe kan ons van hulle verwag om te praat as hulle nog nooit die woorde daarvoor geleer het nie? Wie gaan die eerste wees om die stilte te verbreek?

Iets gaan iewers moet verander – dit kan eenvoudig nie so aangaan nie. Kinders verloor hul pa’s, vroue hul eggenote en ons land word van sy bestes ontneem.

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer