Errol Hurter
Errol Hurter

Werktrots slaan sterk deur

Errol Hurter
Minister Gert Hanekom het by geleentheid gesê dat ’n petroljoggie in baie gevalle die eerste kontakpersoon is waarmee die toeris in Namibië in aanraking kom.

Hy was heeltemal reg want op ’n onlangse reis na die RSA was die petroljoggie op Garies die eerste mens met wie ek gepraat het, dis nou uitgesonder die beamptes by die doeanepos aan die Suid-Afrikaanse kant van die Oranjerivier. In elk geval praat ’n mens nie met hulle nie, jy antwoord net op vrae wat hulle aan jou stel en dan klink hulle ook nie altyd te vriendelik nie.

Ewenwel, die petroljoggie was toe die eerste mens met wie gepraat was toe hy gevra was watter oktaan brandstof hy vir die Isuzu aanbeveel. Dit het tot ’n uitleg van die voor- en nadele van die twee oktane aanleiding gegee en ek moes toe maar my keuse maak. Op my vermaning dat hy moet volmaak maar asseblief nie moet mors nie, het hy net gesê hy mors nie. Ek het hom op sy woord gevat maar was nogtans ’n bietjie onrustig.

So wragtig, toe hy klaar was en ek klim uit die bakkie om seker te maak dat die tenk reg toegemaak is, kon ek nie ’n beduidenis van ’n petrolstroompie teen die kant van die bakkie sien afloop nie. Hy hét nie gemors nie.

Tydens die verblyf in die Boland, is petrol ingetap op Stellenbosch, Die Strand, Robertson, Caledon en nog ’n paar ander plekke. Wat opvallend was, is die feit dat die petroljoggies by die betrokke vulstasies nie één keer gemors het nie. En dis nie omdat ek hulle vermaan het nie. Dis, so glo ek, omdat hulle opgelei is om nie ’n man se kar te bemors deur die tenk oorvol te tap nie.

Nie een van hulle het die voertuig heen en weer begin skud sodat die insittendes seesiek word nie. Nie een van hulle het die kraan vol oopgedraai en met ’n maat gestaan en gesels totdat die petrol by die bek van die tenk uitgespuit het nie. Nie een van hulle was onvriendelik met hierdie buitelandse toeris nie. Een outjie, wat gevra was om net R40 se petrol in te tap, het R40,02 se petrol ingetap.

Toe hy die ekstra twee sent aangebied was, het hy dit geweier “want Menee’ het net vee’tig rand gevra, soe die loss is myne”.

Ek wil herhaal, Oom Gert was reg toe hy die stelling hierbo na verwys, gemaak het. Daai manne in die Boland het by my ’n ander beeld gelaat van hoe petroljoggies teenoor hul kliënte kan optree. In hierdie land het ons seker ook manne van dieselfde kaliber maar o hel, ek dink hulle is maar redelik dun gesaai.

Hier by ons word die tenk tot oorlopens toe volgestamp en as jy die man aanpraat is sy bek dik. Jou kar word heen en weer gewieg om die lug uit die tenk te kry om sodoende daai ekstra sent of twintig in die vulstasie-eienaar se sak te sit. Só kan dit mos nie voortgaan nie!

Is daar ’n skool waarheen aspirant-petroljoggies kan gaan om ordentlike opleiding te ontvang of vang vulstasie-eienaars die manne maar van die strate af, plak hulle ’n keps op die kop en sê vir hom, daar gaat jy! Indien so ’n skool nie bestaan nie, kan dit sterk oorweeg word ter wille van die toeris wat sy weg padlangs deur ons land moet baan. Ek weet watter herinneringe ek van die klomp manne in die RSA oorgehou het.

Ek sou graag wou sien dat toeriste dieselfde herinneringe aan ons land se petroljoggies saamneem na hul lande van herkoms. – 17 Januarie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-01-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer