Werk kan wag!
Hi, hallo! Hoor hier, verskoon my asseblief. Ek begin nou op ’n skoon Word-dokument skryf sonder enige beplanning of idees. Ek het die laaste rukkie nie genoeg tyd gehad om oor my maandelikse skrywe te dink nie, want my pa kuier by my.
Ja, hy is nou al ’n rapsie oor ’n week hier. Die koffie-en-bier-drink bring alles wat was, wat is en idees vir wat mag kom, na vore. Op my klein een-by-twee balkonnetjie sit ek soggens koffie neer en ’n paar stukke van die beskuit wat hy vir my gebak het. Heerlike “Pa se beskuit” so tussen die betonwoude in die Verre Ooste!
Saans kyk ons na die maan terwyl ons gesels. Soms gebeur “lekker slaap” eers teen middernag.
Maar kom ek vertel julle ’n geheim: Ek is donners agter met my werk. Tans werk ek aan ’n projek waarvan ’n sekere gedeelte teen middel November afgehandel moet wees. Eintlik moet ek elke dag ’n paar uur se werk insit, maar ek doen nie. Nie omdat ek lui is of nie van die projek hou nie. . . doodeenvoudig omdat ek eerder die tyd saam met my pa wil deurbring. Ons sien mekaar min.
Die gevolge is dat ek in Oktober gaan spartel, min slaap, stres, meer eet en nog dikker word. Ek sal heel waarskynlik verskonings vir my projekleier moet uitdink wanneer dinge nie volgens die beplanning ontvou nie, maar dit is ook oraait. My werk is net my werk. Dit is nie my lewe nie. Ek is oor die algemeen ’n spanspeler, so ek voel nie sleg om nou ’n bietjie te gyppo nie (gyppo is een van pa se gunstelingwoorde – die weermag-generasie).
Baie mense sal nie met my uitgangspunt saamstem nie, want vir sommige is jou werk jou eer. Dit is heeltemal in orde om anders daaroor te voel. Ons hoef nie almal dieselfde oor werk en prioriteite te dink nie.
Die rede waarom ek my take en verantwoordelikhede tweede stel, is eenvoudig: Kan jy die besonderhede van jou werksverantwoordelikhede van Junie/Julie 2023 onthou? Kan ’n verpleegster haar pasiënte onthou sonder om ’n lêer te trek? Kan ’n kelner onthou wie sy kliënte was; kan ’n ingenieur presies onthou aan watter afdelings van ’n projek sy gewerk het? Of kan die joernaliste in Republikein se kantoor al die voorbladnuus van ’n bepaalde week uit die jaar toet onthou?
In sommige beroepe het mens vaagweg ’n idee, maar die kennis van presies hoe, wat en waar dra nie genoeg waarde tot ’n mens se lewe by om ’n daadwerklike indruk te maak nie.
In teenstelling: dink terug aan belangrike oomblikke saam met geliefdes. Die herinneringe, goed of sleg, van vyf, tien, dalk 20 jaar gelede is baie meer beduidend as insidente van laatnagwerk of ’n bietjie vroeër loop by die werk.
Ek onthou sekere gesprekke van 12 jaar gelede om ’n kampvuur baie duideliker as beleidsveranderinge wat in dieselfde jaar in ’n personeelvergadering weergegee is.
So, dit is hoekom ek met oorgawe my werk vir ’n tydjie afskeep. Dit wat ek terugkry, is soveel kosbaarder. Dit is die stories wat my op my oudag gaan laat glimlag. Staaltjies wat ek sal kan vertel. My pa sê vir Chinese huurmotordrywers “naand” of “dankie” in Afrikaans.
Ek is ook bewus daarvan dat ek in ’n posisie is om my werk af te skeep omdat ek ’n standvastige werk het. Ek is in ’n baie bevoorregte posisie, en daarvoor is ek dankbaar. So dankbaar soos vir die kuier saam met my pa.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie