Welkom begin by die voordeur
René Hugo – Ek lees onlangs dat iemand omgekrap is omdat huise nie meer met spense gebou word nie.
Sy kla oor die gebrek aan ’n bêreplek vir ekstra koffie, tee en suiker. En vra veral: “Waar gaan ’n mens heen met al die botteltjies konfyt, flesse ingelegde vrugte, die blikke vol beskuit en die ekstra slopie met vet biltong?”
Ja, ek verstaan hierdie probleem, maar glo tog dat dit opgelos kan word. Dit is nie verniet dat die huisbeplanners en bouers so gretig is om groot gangkaste in te sit nie! My probleem is egter iets anders. Daar is ’n werklike onoplosbare leemte in moderne huise: Ons het nie meer ’n ingangsportaal nie.
Manlief sê ek is verspot. Ingangsportale is ’n onnodige duur luukse met geen praktiese funksie nie. Maar ek verskil. In my ouerhuis was daar ’n ingangsportaal waar my pa se skryftafel was (sonder ’n stoel, want mens sit mos nie lank in die ingangsportaal nie) en ’n gesellige boekrak.
O-ja, en dan was daar ook ’n werklike kosbare oudheid: My oupagrootjie se “hallstand” met ’n ovaalvormige spieël omring deur fyn gesnede houtwerk en twee koperbakke op die basis wat die plek vir kieries en sambrele was. Dit was mos duidelik ’n ruimte met praktiese waarde.
Dit bring my na wat die werklike waarde van ’n ingangsportaal is. Ek glo dat só ’n ruimte vir die mense wat daar inkom iets vertel van die atmosfeer van die huis en die aard van sy inwoners. So stel dit besoekers op hulle gemak en skep ’n “welkom by ons”-gevoel.
’n Goeie voorbeeld hiervan is kerkgeboue. Ek weet nie van enige kerkgebou (vanaf die statige Westminster Abbey tot by die Dopper-kerk in Burgersdorp) wat nie ’n ingangsportaal het nie.
Natuurlik het hierdie ruimtes eerstens ’n praktiese waarde: Wat maak al die kerkgangers met hulle nat sambrele en reënjasse wat hulle ooglopend nie in die kerkruimte wil inneem nie? Maar meer nog – die ingangsportaal verskaf ’n piëtistiese ervaring van “nou tree ons toe tot God se huis wat ons met eerbied bejeën. Want ons ken en verstaan Sy huis se welkomsgroet”.
Dit is waar, my huis is nie ’n kerk nie. Maar ek benodig ook ’n ingangsportaal. ’n Ruimte wat vir alle binnekommers sê: Hierdie huis en sy mense se aard is só:
– in hierdie huis hou ons van blomme, want daar is altyd ’n bos lieflike lenteblomme op die mooi ronde tafeltjie in die portaal – selfs in die winter.
– in hierdie huis is blou en groen ons geliefkoosde kleure, soos duidelik uitgebeeld in skilderye teen die muur en die vrolike turkoois mat op die vloer.
– in hierdie huis lees ons graag, want in die ingangsportaal is daar boeke op die tafel, langs die stoele op die vloer en in die klein boekrakkie vir spesiale boeke.
– in hierdie huis erken ons die waarde van die verlede. Want teen die agterste muur staan Oupagrootjie se “hallstand”. . .
– en veral: In hierdie huis wil ons graag gaste ontvang wat rustig en gesellig is omdat hulle hou van die “WELKOM!” waarmee die ingangsportaal hulle ontvang.
Ons woon tans in ’n heerlike aftreeoord. Maar die ontwikkelaars/argitekte het besliste idees oor wat belangrik en reg is vir “ou” mense se huise. Soos dat ingangsportale nie hier hoort nie. Besoekers moet sommer net in die huise inval sonder dat dit nodig is om ’n wyle eers jouself te oriënteer tot die huis en sy mense. So asof ouer mense nie ook individualiste is nie!
Dus, wat ek eintlik vir alle bouers en argitekte wil sê: Skrap maar die praktiese spens. Ons kan daarsonder saamleef. Maar gee tog vir my asseblief ’n ingangsportaal wat aan almal wat na my huis kom ’n welkomsgroet sal gee.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie