Wees genadig my kroon!
Ek sê maar net 30 jaar gelede
                                    
                                                            Net daar waar die pad op die knoppie die draai in Uhland-straat af maak, lê die doodvonnis op links in so ’n blou-pers kleed. Dis nou die arme jakaranda.
Hoor mos hier in Windhoek met sy smagting na water van die drie boewe van die planteryk wat die vog en die grond kom steel – die drie draers van die dood van mens en bossie. Dis die jakaranda, die Australiese peper en die bloekom. In volgorde sê vrind Johan Wentzel die Schinus molle, die Eucalyptus en die Jakaranda mimosifolia, wat dit ook al mag beteken.
So amper wil ’n man sê: Joune ook!
Die Australiese peper is boef nommer een. Hy’s in elk geval ’n ou wat onder valse dokumentasie rondreis en sy misdaad pleeg, want die Australiese peper kom g’n uit Australië nie, maar uit Peru.
Hierdie peper floreer feitlik oral. Maar pas op, sê Johan, op grondwater het dit omtrent dieselfde krag as ’n stofsuier. Dit slurp alle grondwater op. En hy’s kwaai. Sy wortels tel plaveisel en beton op en laat mure bars. En dan’s hy nog die gasheer van muskiete en brommers.
Stoute kabouter!
Die bloekom is ewe dors. Juis dit het Dinter sy bloekomwoud by Okahandja laat plant. Daar waar die goed staan, wou-wou die grond ’n moeras maak, maar toe kom tap die bome die vog.
Oor die jakaranda word toegegee dat daar ’n blommeprag in die lente is. Skryf Johan: “Die kortstondige blommeprag dra ’n duur rekening. Die boom mors geweldig, het ’n uiters skadelike wortelstelsel en soos die bovermelde twee spesies suig dit die grond in die omliggende gebied poeierdroog.”
Waarskuwend voeg hy by: “Onthou, ons leen ons grondwater van ons kinders.”
Tot sover, het ds. Malherbe altyd gesê wanneer hy Die Boek met respek toeklap.
Aan die Peruviaanse peper is daar nie veel erg nie. Die vragmotorbestuurders het dit ook nie waar dit die knoetsige takke afry wat met sweet en bloed uitgebeur is tot waar dit oor die sypaadjie hang. Maar gee toe dat hierdie pepers in die regte vorm uitstekende skaduplasse vir motors skep wanneer Desember se son die stoffeerwerk stukkend brand.
Die bloekoms is anders. Daar’s almanakprente van beeste wat by die bloekoms verby huis toe kom, ’n jong man en sy nooientjie wat handjies-vat onder die bloekoms loop en van die ou langes wat oor eie kerkhoffies op boereplase waak. Dis daar waar die krulkopkind lê wat te vroeg gegaan het totdat vaders- en moedersarms gekom het om haar veilig oor die waters te voer.
“My kind, as jy kon leef. . .”
En die Jakaranda mimosifolia? Vir menige jongeling bly dit die eksamenboom, die simbool van laatnagte voor dik boeke om agterstande uit te wis wat oor baie maande van jolyt opgebou is. En dis die simbool van afskeid waar mense binne weke van ’n eindigende akademiese jaar uitmekaar gaan spat. Dan val liefde op die droë grond met net blomwelf as ’n versiersel van dit wat was. Ek het ook ’n vrou gesien wat in die skadu van die oorhangtakke en die lewe die bloupers in haar palms bymekaar gemaak en dit gedruk het tot ’n sagte fluweel – ’n sagte dons op haar laaste skof na die lang sipresse. Miskien moet die lewe op versagting van die doodvonnis van veral die jakaranda pleit. Dit probeer immers.
– 20 Oktober 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie