Wees braaf, maak ruimte vir ander se stories
Verlede keer het ek geskryf oor die tema van Internasionale Vrouedag: “Give to Gain” – hoe die lewe my geleer het dat ons dikwels die meeste ontvang wanneer ons bereid is om te gee.
Maar nou wil ek gesels oor ’n ander vorm van gee. Een wat minder sigbaar is, maar soms selfs meer waardevol is: Die vermoë om werklik te luister.
Nie om te reageer nie.
Nie om te korrigeer nie.
Maar om ruimte te maak.
’n Ruk gelede het ek ’n persoonlike oorwinning met iemand terug by die huis gedeel. Dit was iets wat baie vir my beteken het – ’n klein maar betekenisvolle stap vorentoe in my lewe hier in Ierland.
Ek het die nuus met opgewondenheid gedeel, met ’n oop hart, soos mens doen wanneer jy hoop iemand gaan saam met jou in die oomblik bly wees.
Maar die reaksie wat ek ontvang het, was nie viering nie, dit was raad.
Raad oor hoe ek dit eerder moes benader het.
Raad gebaseer op hul eie ervaring.
Raad oor hoe dinge volgens hulle beter sou werk.
En in daardie oomblik het my hart effens gesink.
Nie omdat die persoon slegte bedoelings gehad het nie – inteendeel. Die raad was goed bedoel. Maar wat hulle nie kon sien nie, is dat my werklikheid hier in Ierland heeltemal anders lyk as die lewe wat ons in Namibië geken het.
Ons roetine is anders.
Ons uitdagings is anders.
Ons konteks is anders.
En skielik het daardie oomblik van deel in ’n oomblik verander waar ek gevoel het ek moet verduidelik, verdedig of aanpas. Dit het my laat besef hoe maklik dit is om iemand se storie – sonder slegte bedoeling – met ons eie te oorheers.
In daardie oomblik is ek weer aan iets belangriks herinner.
Wanneer iemand hul hart met jou deel, vra hulle nie altyd vir oplossings nie; soms vra hulle net vir jou teenwoordigheid.
Net iemand wat luister.
Iemand wat saam vier.
Iemand wat sê: “Ek sien jou.”
Die ironie is baie van ons gee raad omdat ons omgee. Ons wil help. Ons wil bydra. Ons wil wys dat ons verstaan. Maar ware ondersteuning begin dikwels nie met praat nie – dit begin met luister.
Ek glo vas dat ons nie net by mense leer wat ons bewonder nie. Ons leer ook baie uit ervarings wat vir ons wys watter soort mens ons nie wil wees nie.
Daardie ervaring het my herinner aan iets wat ek self wil probeer beter doen: Om ruimte te maak vir ander se stories sonder om dit onmiddellik deur my eie ervaring te filter.
Want elke mens se pad is uniek. En soms is die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee nie raad nie, maar ruimte.
So ek wil jou vandag uitdaag: Wees braaf genoeg om stadiger te luister.
Wanneer iemand hul storie deel, weerhou jouself vir ’n oomblik van die behoefte om dit reg te maak, te verbeter of te vergelyk.
Luister eers.
Vier eers.
Wees net daar.
Want wanneer ons werklik ruimte vir mekaar se stories maak, gee ons iets baie kosbaars: Die gevoel om gesien en gehoor te word. En dalk is dit een van die grootste geskenke wat ons vir mekaar kan gee.
* Astrid is ’n Namibiër wat saam met haar man en twee jong kinders in Waterford, Ierland, woon. Sy is passievol oor vrouebemagtiging en geestesgesondheid. Dié rubriek is deel van haar Be Brave Monthly Glimmer-inisiatief waar sy elke maand haar gedagtes, ervarings en raad per e-pos deel.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie